Gholf: Burmester lag al die pad bank toe

Dean Burmester (Foto: Dean Burmester/Twitter)

Suid-Afrika se Dean Burmester het Sondagaand in Florida sy beursie met R22,7 miljoen laat bult toe hy saam met die Amerikaner Patrick Reed derde in die LIV-gholftoernooi geëindig het.

Burmester het die toernooi op 12 houe onder die baansyfer afgesluit om drie houe agter die wenner, die Amerikaner Brooks Koepka, te eindig.

Koepka het op -15 geëindig en sy tweede toernooi in die reeks gewen. Sy wentjek was ʼn asemrowende R71 miljoen.

Die Colombiaan Sebastián Muñoz was tweede op -14.

Charl Schwartzel het 21ste op -7 geëindig, Branden Grace was 25ste op -6 en Louis Oosthuizen 41ste op -1.

In die spanafdeling was die Suid-Afrikaanse Stinger-span (-26) vierde. Die spanafdeling is deur Torque (-36) gewen, met Smash (-35) tweede en 4-Aces (-34) derde.

* In Mookgophong se Limpopo-kampioenskapstoernooi wat by die Euphoria-landgoed oor 54 putjies beslis is en deel van die Sonskynreeks is, het die jong Ryan van Velzen (21) sy eerste toernooi in die reeks gewen.

Van Velzen het 68 houe in die laaste ronde aangeteken en het een hou voor Jaco Prinsloo, Luca Fillipi en Daniel van Tonder geëindig. Jean-Paul Strydom was vyfde op -10, met Niel Schietekat, Jbé Kruger en James-Hart du Preez op -9.

Prinsloo was op pad na sy eerste oorwinning toe hy op die 16de putjie ʼn voëltjie aangeteken het.

Maar hy het op die laaste putjie (syfer 5) sy bofhou in die ruveld laat beland en twee houe meer as baansyfer op sy telkaart ingevul.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Texas-Ope wat in San Antonio beslis is, het die Kanadees Corey Connors met een hou geseëvier met ʼn toernooitelling van 273 (-15).

Connors, wat die toernooi ook in 2019 gewen het, het die laaste ronde in 68 houe voltooi en het een hou voor die groentjie Samuel Evans (274, -14), wat twee arende in sy laaste ronde van 68 houe aangeteken het, geëindig.

Die Amerikaners Matt Kuchar en Sam Ryder was saam derde op 13 houe onder die baansyfer.

Suid-Afrika se MJ Daffue het op 281 (-7) geëindig, met Christiaan Bezuidenhout op 283, -5.

Garrick Higgo (294, +6) het swak gevaar in die laaste toernooi voor die Amerikaanse Meesters wat vandeesweek op Augusta begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.