Gholf: Higgo en Burmester kook in die VSA

Garrick Higgo Saterdag in aksie. (Foto: Jonathan Bachman / Getty Images via AFP)

Die twee Suid-Afrikaners, Garrick Higgo en Dean Burmester, blaas ná drie rondtes van die Sanderson Farms-gholftoernooi wat in Jackson, Mississippi, gespeel word, in die voorloper Mark Hubbard van die VSA se nek.

Dié toernooi is deel is van die Amerikaanse PGA-reeks met prysgeld van 7 900 000 Amerikaanse dollar (bykans R142 miljoen).

Hubbard het op 201 houe (-15) geëindig nadat hy tellings van 67, 69 en 65 op sy telkaart ingevul het.

Die Kanadees Mackenzie Hughes is tweede op 202 (-14), gevolg deur Sepp Straka van Oostenryk, Scott Stallings van die VSA en Higgo, wat saam derde is op 204 (-12).

Higgo het 68 in die derde rondte aangeteken nadat hy 70 en 66 in die eerste twee rondtes op sy telkaart ingevul het.

Burmester is op 206 houe (-10) saam agtste.

* In die Ascendent-toernooi vir vroue, wat op die Old American-baan in Florida gespeel word en deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks, loop Charlie Hull van Engeland (202, -11) met een hou voor ná die derde rondte. Sy word gevolg deur Xiyu Lin van China (202) met Lydia Ko van Nieu-Seeland en Celine Boutier van Frankryk saam derde op 203.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai is in die 60ste posisie op 216 nadat sy 71 houe in die derde rondte aangeteken het.

* Op St. Andrews in Skotland loop Richard Mansell van Engeland met vier houe voor ná die derde rondte van die Alfred Dunhill Links-toernooi.

Mansell (201, -15) het 67 houe in die derde rondte aangeteken en is vier houe voor die Australiër Ryan Fox, Alex Noren van Swede en nog ʼn Engelsman, Daniel Givens (almal 205, -11).

Die 22-jarige Suid-Afrikaner Christiaan Burke wat een van die land se topamateurs was en vroeër vanjaar ʼn beroepspeler geword het,  is op 208 (-8) in die agtste posisie.

Van die ander Suid-Afrikaners wat die afsnypunt gehaal het, sluit in Oliver Bekker (-7), Louis Oosthuizen (-6), Daniel van Tonder (-5), Louis de Jager (-3), George Coetzee (-2), Jaco Ahlers (-1) en Casey Jarvis, Jaco Ahlers en Richard Sterne (almal -1).

* In die Sonskynreeks se Vodacom of Origins-toernooi wat by Cape St. Andrews in die Oos-Kaap beslis is, het die 28-jarige Ruan Korb (203, -13) met twee houe gewen nadat die voorloper Ockie Strydom op die 11de putjie ingeplof het toe hy vier houe aan baansyfer (syfer 4) afgestaan het.

Dit terwyl Korb voëltjies op die 11de, 12de en 13de putjies aangeteken het om die voortou te neem.

Strydom (205, -11) het tweede geëindig nadat hy 72 houe in die laaste rondte aangeteken het.

Die 52-jarige Skotse veteraan Doug McGuigan (207, -9) het derde geëindig nadat hy op die laaste twee putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Hy is gevolg deur Hennie O’Kennedy (208) en Dylan Naidoo (209).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.