Gholf: Oosthuizen rooiwarm in Amerikaanse woestyn

Louis Oosthuizen Vrydag in Tucson, Arizona. (Foto: Christian Petersen / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Tucson, Arizona, vir byna drie uur in die skaduwee van die voorlopers in die eerste ronde van vanjaar se tweede LIV-toernooi beweeg voordat hy vlam gevat het.

Oosthuizen, wat twee voëltjies op die eerste twee putjies behaal het, het op die 11de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan wat hom tot  -1 laat terugsak het.

Die grootste deel van die kollig het op die Amerikaners Dustin Johnson en Bryson de Chambeau (albei 72), Brooks Koepka (69) en die veteraan Phil Mickelson (70) geskyn wat die televisie-uitsending oorheers het.

Maar Oosthuizen het met vier voëltjies oor die laaste vier putjies in die kollig inbeweeg, want hy het op 66 houe (-5) geëindig.

Hy was net een hou agter die voorloper, Marc Leishman van Australië (65, -6), met die Mexikaan Abraham Ancer en Matthew Wolff (Amerika) saam met Oosthuizen op 66.

Branden Grace (70), Dean Burmester (72) en Charl Schwartzel (73) was verder terug. Die drie beste tellings, dié van Oosthuizen, Grace en Burmester, het die Suid-Afrikaanse Stinger-span (-5) tot agtste in die spanafdeling laat inskuif.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Valspar-kampioenskap wat by die Copperhead-baan in Tampa Bay, Florida, beslis word, het die Amerikaner Adam Schenk op 135 houe (-7) die voortou ná die tweede ronde geneem.

Hy is gevolg deur sy landgenoot Kramer Hickok (136, -6), met Jordan Spieth, Davis Riley, Cody Gribble en Tommy Fleetwood van Engeland saam derde op 137, vyf houe onder die baansyfer.

Suid-Afrika se MJ Daffue, Erik van Rooyen en Garrick Higgo is op 143 (+1) saam in die 52ste posisie.

* Die stormsterk wind wat Vrydagmiddag in die Oos-Kaap gewaai het, het ook ʼn vroeë einde aan die tweede ronde van die SDC-kampioenskap (Sonskyn- en Road to Dubai-reeks) wat op die St. Francis Links-baan gespeel word, gebring.

Donderdag se eerste ronde is vanweë die ongure weer eers Vrydagoggend voltooi, met David Ravetto en Kristian Krogh Johannessen saam voor.

Die Fransman Julien Brun het Vrydagoggend, toe dit byna windstil was, sy kans gebruik en het op 67 houe afgesluit om die klubhuisvoorloper op 136 houe, agt houe onder die baansyfer, te wees.

Hy was een hou voor Engeland se Matthew Baldwin, Albert Venter van Suid-Afrika en die Sweed Jens Dantorp (al drie op 137, sewe houe onder baansyfer).

Maar skuins voor middagete het toestande dramaties verander en spel is net voor 14:00 tydelik opgeskort. Daar is later besluit om die ronde halt te roep en dit sou Saterdagoggend van 07:00 af voltooi word.

“Die wind het op die tweede nege soms teen 65 km/h gewaai en oor die eerste nege teen 70 km/h,” het Kevin Feeney, die Road to Dubai se hoofskeidsregter, aan die Sonskynreeks gesê .

Van die ander vernaamste Suid-Afrikaners wat hul rondes voltooi het, sluit in Jean Hugo (139), James Kamte (141) en Jaco Ahlers, Jbé Kruger, Jaco van Zyl, George Coetzee en Daniel van Tonder (almal 143).

* In die Europese vroue-reeks was Suid-Afrika se Nicole Garcia, die Amerikaner Danielle Kang en die Franse speler Pauline Boucher saam voor op 137 houe (-7) ná die tweede ronde van die Aramco-toernooi wat in Singapoer beslis word.

Ses spelers, onder wie Lydia Ko van Nieu-Seeland (sy is eerste op die wêreldranglys), was saam tweede op 139 (-5).

Suid-Afrika se Kaleigh Telfer (142) en Casandra Alexander (147) sal ook in die laaste twee rondes afslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.