Gholf: Pavon maak Franse geskiedenis

Matthieu Pavon (Foto: Orlando Ramirez / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Matthieu Pavon het op die Torrey Pines-gholfbaan in San Diego, Kalifornië, die Franse vlag hoog laat wapper toe hy die eerste Franse gholfspeler geword het wat ʼn toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks kon wen.

Pavon, wat ʼn voëltjie van byna drie meter op die 18de putjie in die laaste ronde van die Farmers Insurance-toernooi aangeteken het, het sy arms in die lug gegooi en geskree terwyl hy sy joggie omhels het.

Pavon het die laaste ronde in 69 houe voltooi en op 275 houe (-13) geëindig. Hy het net een voëltjie in die laaste ronde aangeteken om bykans R30 miljoen met sy oorwinning te verdien.

Hy het die Deen Nicolai Højgaard (276, -12) met een hou uitgestof om ʼn uitspeelstryd te vermy.

Die Duitser Stephan Jaeger, wat ná die tweede en derde ronde voorgeloop het, het 72 houe in die vierde ronde aangeteken en saam met die Amerikaners Jake Knapp en Nate Lashey op 277 houe (-11) geëindig.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks vir vroue se Drive On-toernooi wat op die Bradenton-baan in Florida gespeel word, het Nelly Korda haar voorsprong in die derde ronde tot vier houe bo die Nieu-Seelander Lydia Ko vergroot, wat verlede week se Toernooi van Kampioene gewen het.

Korda het 68 houe in die derde ronde aangeteken en is op 200 houe (-13) vier houe voor Ko, Ayaka Furue van Japan en Megan Khan van Amerika, wat al drie op 204 (-9) in die klubhuis geëindig het.

Sei-Young Kim van Suid-Korea, Xiyu Lin van China, Auston Kim van Amerika en Robyn Chou van Australië is saam vyfde op 205 (-8).

* In die Ras Al Khamaih-kampioenskap wat by die Al Hamra-buiteklub gespeel word, is Suid-Afrika se Brandon Stone vierde ná die derde ronde, maar sewe houe agter die voorloper, Thorbjorn Olesen van Denemarke.

Olesen het die derde ronde in 63 houe voltooi en het op 194 (-22) geëindig.

Hy is vier houe voor sy landgenoot Rasmus Hojgard (198, -18), met Frederic Lacroix van Frankryk derde op 200 (-16).

Stone, wat die derde ronde in 67 houe voltooi het, is op 201 (-15) saam met Angel Hidalgo van Spanje en Marcus Helligkilde (Denemarke) vierde.

Zander Lombard is sewende op 202 (-14), met sy landgenote Louis de Jager (207), Jayden Schaper, Jaco Prinsloo en Hennie du Plessis (almal op 208) en Dylan Frittelli (216) verder terug.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Mediclinic-uitnodigingstoernooi wat op die Maccauvlei-baan in Vereeniging gespeel word, het Ryan van Velzen in die derde ronde na vore geskiet.

Van Velzen het die ronde, wat deur reën onderbreek is, in 64 houe voltooi en is op 199 houe (-17) een hou voor Neil Schietekat (200, -16).

Schietekat, wat ná die tweede ronde voor was, is een hou voor Oliver Bekker (201, -15), gevolg deur Yuvrav Premlall (202, -14).

Dylan Naidoo is vyfde op 203 (-13) met ʼn rits spelers, wat DK Kim van Suid-Korea insluit, op 204.

Vyf Suid-Afrikaners, Estiaan Conradie, Jbé Kruger, Martin Rohwer, Jean Hugo en Peter Karmis is saam met Kim op 204 (-12).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.