Gholf: Player se woorde word waar

Argieffoto van Justin Thomas. (Foto: Orlando Ramirez/Getty Images/AFP)

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player het altyd gesê dat goeie setwerk, en nie lang bofhoue om die toeskouers te beïndruk nie, die geld sal laat inrol.

Saterdagaand op die Copperhead-baan by die Innisbrook-buiteklub in Palm Harbor, Florida, het die Amerikaner Justin Thomas in die derde ronde van die Valspar-toernooi opnuut besef wat Player bedoel het.

Thomas het 38 sette nodig gehad om die derde ronde te voltooi en het op sewe putjies houe aan baansyfer afgestaan. Hy het ook by ʼn verdere putjie twee houe aan baansyfer afgestaan omdat sy setwerk kwaai gelol het.

Hy het op 82 houe afgesluit en volgens hom was dit die swakste wat hy nog in die Amerikaanse PGA-reeks geset het.

Maar waar Thomas se setstok hom in die steek gelaat het, het die 32-jarige Keith Mitchell na vore geskiet om die voortou te neem.

Mitchell, wat in 2014 ʼn beroepspeler geword het en nog net een toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks kon wen, het op die 16de putjie ʼn voëltjie behaal, op die kort 17de nog ʼn voëltjie behaal en op die 18de met ʼn arend afgesluit.

Mitchell is op 203 houe (-10) twee houe voor Kanada se Mackenzie Hughes, Seamus Power van Ierland en die Amerikaner Peter Malnati (205, -8).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het 72 houe in die derde ronde aangeteken en het op 210 houe (-3) in die gesamentlike 27ste posisie geëindig.

* By die Dainfern-landgoed in Sandton het Haydn Porteous die gesamentlike voortou ná die derde ronde van die Stella Artois-spelerskampioenskap geneem wat deel is van die plaaslike Sonskynreeks.

Porteous, wat sewe jaar laas in die Sonskynreeks kon wen, het 63 houe in die derde ronde aangeteken en het saam met sy twee landgenote Keenan Davidse (63) en Michael Hollick (64) die voortou op 193 houe (-23) geneem.

Hulle word deur Jaco Ahlers op 195 (-21) gevolg, met Joe Long van Engeland en vier Suid-Afrikaners, Louis Albertse, JJ Senekal, MJ Viljoen en Heinrich Bruiners, wat almal op 196 (-20) in hul nekke blaas.

* By die Palos Verdes-buiteklub in Kalifornië het Suid-Korea se 35-jarige Jiyai Shjin, wat laas in 2013 in die volle Amerikaanse LPGA-reeks vir vroue gespeel het, die gesamentlike voortou ná die derde ronde van die Fir Hill Seri Pak-toernooi geneem.

Shin het 63 houe in die derde ronde aangeteken en is op 204 houe (-8) saam met Alison Lee van Amerika twee houe voor die verdedigende kampioen, Ruoning Yin van China, en ʼn rits ander spelers.

Yin was op die 18de putjie nog met een hou voor, maar sy het drie houe aan baansyfer afgestaan en haar voorsprong ingeboet.

Yin is saam met die Amerikaners Malia Nam en Nelly Korda en die Australiër Gabriela Ruffels twee houe agter Shin en Lee.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 71 houe in die derde ronde aangeteken en is op 209 houe (-4) saam 15de.

Paula Reto (212, -1) is verder terug.

Bronne: The Golf Channel en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harold ·

Beslis, my beste tellings was nie toe ek noodwending die bal goed geslaan het nie, maar toe ek die bal “betyds” in die gat gekry het. ‘n Gewilde seding was altyd ” Don’t waste time baby, get the ball in the hole” My beste telling ooit het ek net 23 sette op 18 putjies gehad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.