Gholf: SA’ners jag Kaapse trofee

(Foto: JC Ritchie/Facebook)

Die Suid-Afrikaner JC Ritchie (-14) is net twee houe agter die 19-jarige Ier Tom McKibbin by die Bain’s Whisky Kaapstad Ope. Die laaste ronde slaan later vanoggend af. Die vraag is of die plaaslike spelers daarin kan slaag om die trofee in die land te hou.

Die Suid-Afrikaners Bryce Easton, Pieter Moolman, Neil Schietekat en Zander Lombard is drie houe agter McKibbin by die Royal Cape-gholfklub.

McKibbin het in die tweede ronde die baanrekord van 62 houe geëwenaar, maar moes gister tevrede wees met ʼn 70. Ritchie, Schietekat en Easton het die beste rondes van die dag gespeel en hul rondes in 67 houe voltooi, vyf houe beter as die baansyfer.

Op die Amerikaanse PGA-toer is die Chileen Joaquin Niemann (-19) drie houe voor by die Genesis-uitnodigingstoernooi by die Riviera-buiteklub. Tiger Woods is die gasheer vir die toernooi.

Die Amerikaner Cameron Young is drie houe agter Niemann met Viktor Hovland van Noorweë een hou verder terug. Daar is ʼn klomp groot gholfname wat die Chileen jaag.

Die Amerikaners Justin Thomas (-12) en Colin Morikawa (-11) is twee van daardie name. Hulle het ervaring van die groot oomblikke en sal toeslaan as die 23-jarige Chileen se knieë begin bewe.

Niemann se 194 houe oor die eerste drie rondes is ʼn nuwe rekord vir die Amerikaanse PGA-toer. Die vorige rekord van 196 is in 2004 deur Mike Weir opgestel. Dustin Johnson kon dit in 2017 ewenaar en Justin Thomas in 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.