Gholf se bestes ding mee vir gesogte titels

Branden Grace. Foto: AP Photo/Stephen B. Morton

Die room van plaaslike gholf en ’n tikkie meer as ʼn anderhalf dosyn van die wêreld se grootste sterre se visiere is van Donderdag af op twee uiters gesogte titels gerig.

Op die Blair Atholl-baan neffens die Lanseria-lughawe is die SA Ope-titel op die spel, terwyl ’n uitsoekgroep van gholf se heel bestes sowat 13 000 km in ’n westelike rigting in Albany in die Bahamas byeen is om sake om die Hero-uitdaagtitel uit te spook.

Die SA Ope is die naasoudste Ope-toernooi in die wêreld en is amptelik die eerste keer in 1903 in Port Elizabeth beslis.

Sedertdien het Suid-Afrika se heel beste spelers almal die gesogte SA Ope-titel een of meer kere ingepalm.

Gary Player spog met ’n rekord van 13 SA Ope-titels, met Bobby Locke (9), Sid Brews (8), George Fotheringham (5) en Ernie Els (5) almal ook veelmalige kampioene.

Ander bekendes soos Harold Henning, Bobby Cole, Wayne Westner, David Frost, Trevor Immelman, Tim Clark en Retief Goosen het almal die SA Ope twee keer in hul loopbane gewen.

Dit is duidelik dat die lys van SA Ope-kampioene al die land se bekendste spelers insluit en gevolglik is dit elke plaaslike gholfspeler se droom om hom by dié uitgelese groep aan te sluit en sy naam soveel kere as moontlik op die trofee te verewig.

Vandeesweek se topdromers sluit in Charl Schwartzel, Branden Grace, Dylan Frittelli, Dean Burmester, Erik van Rooyen, MJ Daffue, Thriston Lawrence, Shaun Norris, Daniel van Tonder, George Coetzee, Branden Stone, Hennie Otto, Richard Sterne en Hennie du Plessis.

Grace, Van Tonder, Stone, Otto en Sterne het al sjampanje uit die Ope-trofee gedrink, maar vir die ander sal dit ’n eerste keer wees.

Frittelli, Burmester, Van Rooyen en Daffue speel in die gesogte Amerikaanse PGA-reeks, wat ’n duidelike bewys van hul vermoëns is. Saam met Grace en Schwartzel, wat deesdae in die LIV-reeks meeding, is hulle die beroepswedders se groot gunstelinge om Sondag met die titel weg te stap.

Verlede Sondag op Houghton het die Engelse nuweling Daniel Bradbury egter vir almal gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Sy vertoning het onderstreep dat enigiemand wat speelregte op die DP-wêreldreeks het, goed genoeg is om ’n toernooi te wen as dinge die heel week vlot verloop.

Bradbury en gesoute Europese sterre soos Adrian Otaegui, Sean Crocker, Ross Fisher, Marcel Siem, Edoardo Molinari, Romain Langasque, Matthew Southgate en Sami Valimaki se wenkanse kan dus nie sonder meer geïgnoreer word nie.

In die Bahamas is daar slegs twintig deelnemers in vergelyking met die 156 op Blair Atholl, maar dit maak dit nie makliker om ’n wenner te voorspel nie.

Drie van die elitegroep van twintig deelnemers, Scottie Scheffler (Amerikaanse Meesters), Matt Fitzpatrick (Amerikaanse Ope) en Justin Thomas (Amerikaanse PGA), het vanjaar Major-titels gewen; oor hul vermoëns kan daar dus nie gestry word nie. Veral Scheffler sal sy strooijonker-kroon vir die ware een wil verruil.

Voorts tel altesame sestien van die deelnemers onder die wêreld se toptwintig, wat ’n aanduiding is van bestendige spel op ’n hoë vlak oor ’n tydperk van twaalf maande. Almal is ook beproefde wenners.

Die laaste drie spelers wat uitnodigings ontvang het om na Albany te reis, Kevin Kirsner, Tommy Fleetwood en Sepp Straka, kan dalk net ekstra motivering hê om te wil bewys dat hulle hul plekke in die veld verdien het.

Veral Fleetwood blyk sy beste spelpeil te herwin het, soos sy oorwinning ’n paar weke gelede op Sun City van getuig.

Die Hero-veld kan egter verskoon word as hul vertonings op die baan vandeesweek nie heeltemal hul prioriteit is nie.

Vir baie van hulle sal dit die eerste keer wees wat hulle die geleentheid kry om met Tiger Woods skouers te skuur.

Woods is byna almal van hulle se held en die speler wat hulle verafgod het toe hulle hul tande in die spel geslyp het.

Kersfees het vroeg gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.