Gholf: Sprokiesverhaal by PGA-kampioenskap

Mito Pereira van Chile speel die 17de gat tydens die PGA-kampioenskap in die VSA. (Foto: by Christian Petersen /Getty Images via AFP)

In beroepsport is daar die sprokiesverhale wat sportondersteuners nog lank aan die praat hou. Dit sal weer die geval wees as die Chileen Mito Pereira (-9) sy momentum kan behou en die Amerikaanse PGA-kampioenskap in Oklahoma kan wen.

Die 27-jarige Pereira slaan later vandag af met ʼn voorsprong van drie houe. Dit is sy eerste jaar op die PGA-toer nadat hy met drie oorwinnings op ʼn sateliettoer gekwalifiseer het om saam met die groot kanonne te speel. Hy het ʼn roemryke loopbaan as junior speler gehad en was in 2015 nommer 5 op die wêreldranglys vir amateurspelers voordat gholf sy beroep geword het.

Hy het nog net in een major-toernooi aangetree. Dit was die Amerikaanse Ope in 2019 en hy kon nie kwalifiseer om die laaste twee rondes te speel nie. Die druk om as voorloper af te slaan in die laaste ronde van so ʼn groot toernooi gaan dus vir hom ʼn splinternuwe ervaring wees.

Die Amerikaner Will Zalatoris en Engelsman Matt Fitzpatrick gaan hom jaag en is drie houe agter hom. Veral Fitzpatrick speel al beter. Terwyl die ander groot name gesukkel het in die derde ronde, het hy sy ronde in 67 houe, drie minder as die baansyfer, voltooi.

Pereira en Fitzpatrick speel in die laaste groep wat 20:35 Suid-Afrikaanse tyd afslaan.

Rory McIlroy se treurmare ná ʼn uitstekende eerste ronde het voortgeduur. Hy het sy derde ronde in 74 houe voltooi en is nege houe agter Pereira.

Vir die Suid-Afrikaners is daar geen kans op ʼn oorwinning nie. Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Shaun Norris is in die gesamentlike 60ste plek op sewe houe bo die baansyfer. Oosthuizen en Norris speel saam in ʼn groep en slaan 15:15 Suid-Afrikaanse tyd af.

Die enigste ander Suid-Afrikaner wat die afsnypunt geklop het, was Justin Harding (+8). Hy speel sy laaste ronde saam met die Spanjaard Jon Rahm (+8).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.