Gholf: Suid-Afrikaners speel wêreld aan die brand

Christiaan Bezuidenhout (Foto: David Yeazell-USA TODAY Sports/Twitter)

Dit was weer een van daardie wonderlike dae vir Suid-Afrikaanse gholf waar die son helder geskyn het op Christiaan Bezuidenhout in die VSA, Ashleigh Buhai in die Kaap, George Coetzee in Centurion en ʼn rits jongelinge in Kenia.

Bezuidenhout was op TPC Sawgrass by Ponte Verdra Beach in Florida saam met Adam Svensson van Kanada voor op agt houe onder die baansyfer toe die tweede ronde van die geldryke Spelerskampioenskap weens ʼn storm tot ʼn halt geroep is.

Bezuidenhout, wat 14 putjies voltooi het, het foutloos gespeel en net soos Svensson (11 putjies voltooi) nie ʼn hou aan baansyfer afgestaan nie.

Die Amerikaner Ben Griffin, ʼn voormalige verbandleningsbeampte, was die klubhuisvoorloper op ses houe onder baansyfer met 138 houe.

Afgesien van Bezuidenhout-hulle blaas die Amerikaner Collin Morikawa (-6 ná 11 putjies) en Min Woo Lee van Australië (ook -6 met drie putjies oor) vuurwarm.

Die Noord-Ier Rory McIlroy was ses houe oor die baansyfer en sal na alle waarskynlikheid nie die afsnypunt haal nie.

Die Amerikaner Scottie Scheffler, wat net soos McIlroy op die Spanjaard Jon Rahm se spoor is om die mantel as die wêreld se voorste speler op die gholfranglys oor te neem, was vyf houe onder baansyfer nadat hy voëltjies op die negende en tiende putjies aangeteken het.

Rahm het hom weens ʼn maagvirus voor die toernooi onttrek.

Die glanstoernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, het prysgeld van $25 miljoen (bykans R457 miljoen) met ʼn ongelooflike wentjek van $4,5 miljoen (sowat R82) wat op die wenner wag.

* By die Steenberg-gholfklub in Kaapstad kon ʼn maagvirus nie vir Buhai in die derde ronde van die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue stuit nie.

Buhai, wat 64 en 65 houe in die eerste twee rondtes aangeteken het, het 69 houe onder moeilike omstandighede in die derde rondte aangeteken en is op 198 (-18) met vier houe voor die 16-jarige Duitse tiener Ciara Noja en die Spanjaard Ana Pealea Trivino (albei 202, -14).

Buhai, wat op die eerste putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het, het haarself reggeruk met drie voëlties by die volgende vier putjies.

Buhai het ná haar rondte gesê dat sy  vroeg Vrydagoggend (02:30) reeds op was weens die maagaandoening. Magdalena Simmermacher van Argentinië het 67 houe aangeteken en is vierde op 203 (-13).

Sy is vier houe voor Alessandra Fanali van Italië en Swede se Gustavsson wat op 207 houe (-9) saam vyfde is.

* In die Sonskynreeks se Mediclinic-uitnodigingstoernooi wat by die Centurion-buiteklub gespeel word, is Coetzee op 196 (-20) met een hou voor sy Suid-Afrikaanse landgenoot Jake Redman (197, -19).

Hulle word gevolg deur Stefan Wears-Taylor, Louis Albertse en Ruan Korb, wat al drie op 199 houe (-17) geëindig het.

Yurav Premlall en Ryan van Velzen (albei Suid-Afrika) en die Engelsman James Mack is op 201 (-15).

Coetzee se 67 houe in die derde rondte was sewe houe onder baansyfer.

Hy het ná sy rondte gesê dat hy verheug was om die derde keer vandeesweek sewe houe of minder as baansyfer aan te teken, net soos sy gunsteling-sokkerspan Liverpool, wat verlede Sondag ʼn oorwinning van 7-0 oor Manchester United in die Engelse Premierliga behaal het.

* In Kenia is die Spanjaard Ignacio Elvira (132, -10) met een hou voor Suid-Afrika se 21-jarige Jayden Schaper,  Nick Bachem (Duitsland) en Ryo Hisatsune van Japan (al drie 133, -9) ná die tweede rondte van die Kenia-Ope, wat deel is van die Road to Dubai-reeks.

Nog drie Suid-Afrikaners, die 19-jarige Casey Jarvis, Wilco Nienaber en Dylan Mostert (136, -6) is saam in die 14de posisie, met Louis de Jager op 137.

Hulle word gevolg deur Bryce Easton, JC Ritchie, Shaun Norris en Daniel van Tonder wat almal op 138 houe geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.