Gholf: Taylor wen Phoenix-Ope ná eindpoging

Nick Taylor (Foto: Orlando Ramirez/Getty Images via AFP)

Daar is min dinge wat kan kers vashou by momentum wat met ʼn eindpoging gepaard gaan, veral in gholf.

Die Kanadees Nick Taylor het dit Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) op TPC Scottsdale in Arizona, Kalifornië, gewys toe hy die Phoenix-Ope op die tweede uitspeelputjie gewen het nadat hy vyf voëltjies oor sy laaste ses putjies aangeteken het.

Dit was Taylor se vyfde oorwinning in die reeks nadat hy verlede jaar die eerste Kanadese speler in 69 jaar geword het wat die Kanadese Ope kon wen.

Taylor en die Amerikaner Charley Hoffmann het albei op 263 houe (-21) in die toernooi, wat kort-kort deur reën onderbreek is, geëindig. Taylor het sy oorwinning met ʼn voëltjie op die tweede uitspeelputjie beklink nadat hy en Hoffman albei voëltjies op die eerste uitspeelputjie behaal het.

Taylor was die voorloper ná die derde ronde, wat eers Sondagoggend vanweë swak weerstoestande voltooi kon word.

Hy het die vierde ronde besadig begin en kon net een voëltjie oor die eerste nege putjies aanteken.

Maar hy het vlamgevat en drie voëltjies oor die laaste vier putjies aangeteken om die uitspeelstryd met Hoffmann af te dwing. Hy het dit met nog twee voëltjies in die uitspeelstryd opgevolg.

Scottie Scheffler, die wêreld se voorste speler op die ranglys, was ook rooiwarm oor die laaste paar putjies toe hy vyf opeenvolgende voëltjies ingeryg het om derde te eindig.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het op 276 houe (-8) in die 28ste posisie geëindig met Garrick Higgo op 279 (-5).

* In die Katar-Meesterstoernooi wat by die Doha-buiteklub gespeel is, het Rikuya Hoshino van Japan met een hou gewen nadat hy die vierde en laaste ronde in 68 houe voltooi het om op 274 houe (-14) te eindig.

Hoshino se telling was een hou beter as dié van Ugo Coussaud (Frankryk) wat op 275 (-13) geëindig het, met die Skot, Scott Jamieson, derde op 276 (-12) en Tom McKibbin van Engeland vierde op 277 (-11).

Ockie Strydom en Zander Lombard het albei op 282 houe (-6) in die 16de plek geëindig, met Jayden Schaper op 283, Hennie du Plessis en Jacques Kruyswijk saam op 284, Jaco Prinsloo op 285 en Louis de Jager op 287.

* Op die Royal Cape-baan in Kaapstad het die Sweed Mikael Lindberg ʼn voëltjie op die tweede uitspeelputjie aangeteken om Suid-Afrika se Ryan van Velzen uit te stof.

Lindberg se eindpoging in die vierde ronde het tot twee voëltjies op die 16de en 17de putjies gelei, wat hom saam met Van Velzen op 267 houe laat eindig het.

Suid-Afrika se Louis Albertse was derde op 273, gevolg deur sy Suid-Afrikaanse landgenote JC Ritchie, Rupert Kaminski, Toto Thimba (jr.), Shaun Norris asook Lars van Meijel (Nederland), Robin Sciot-Siegrist (Frankryk) en die Deen Rasmus Norgaard-Petersen saam sesde op 275.

Lindberg is die tweede Sweed wat die Kaapstad-Ope kon wen nadat sy landgenoot Anton Karlsson ook in 2020 aan die wenkant was.

* In die Kenia-Ope vir vroue, wat deel is van die Europese reeks, het Suid-Afrika se Cara Gorlei en Lee-Anne Pace (albei 290, -2) goed gevaar in die laaste ronde en saam 11de geëindig.

Die toernooi is deur Shannon Tan van Singapoer gewen wat op 280 houe (-12) geëindig het, met Alessandra Fanali van Italië tweede op 284 (-8) en Ana Pelaez van Spanje, Chiara Tamburlini (Switserland), Manon de Roey (België), Alice Hewson (Engeland) en Nataliya Guseva (onverbonde) saam derde op 288 houe (-4).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.