Kampioen Scottie droom van pa word

Scottie Scheffler (Foto: Getty Images/AFP)

Die gholfgode het Sondagaand op die Augusta National-gholfbaan breed vir die nimlike Amerikaner Scottie Scheffler geglimlag.

Die 27-jarige Scheffler, een van die gaafste ouens in gholf en die wêreld se voorste speler op die wêreldranglys, het sy tweede Amerikaanse Meesters-toernooi in drie jaar gewen.

Scheffler het die aanslag van die jong Sweed Ludvig Åberg (69) weerstaan en het die laaste ronde in 68 houe voltooi. Hy was eerste op 277 houe (-11).

Scheffler se wentelling was vier houe beter as dié van Åberg (281, -7) met die Amerikaners Collin Morikawa en Max Homa en Tommy Fleetwood van Engeland saam derde op 284 (-4).

Die twee LIV-spelers Cameron Smith van Australië en Bryson DeChambeau het saam op 286 houe (-2) klaargemaak.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen was 55ste op 301 (+13) met die legende Tiger Woods laaste op 304 (+16).

Woods, wat die rekord laat spat het deur vir die 24ste agtereenvolgende keer vir die laaste twee rondes van die Meesters-toernooi te kwalifiseer, is deur duisende toeskouers op die laaste putjie toegejuig, ondanks sy tellings van 82 en 77 in die laaste twee rondes.

Scheffler se aandag was verdeel tussen die Meesters en sy vrou, Meredith, wat hoog swanger is en tuis in Dallas agtergebly het.

“Ek het jou lief en ek kom huis toe. Ek sal vinnig by die huis wees. Ek kan dit nie in woorde omskryf wat dit beteken om hier te wen en die eerste keer pa te word nie,” het Scheffler gesê nadat verlede jaar se kampioen, Jon Rahm van Spanje, die groen Meestersbaadjie oor Scheffler se skouers gehang het.

Scheffler het eers op die agtste putjie in die laaste ronde na vore geskiet toe hy ʼn voëltjie aangeteken het. Hy het dit met voëltjies op die negende, tiende, 13de, 14de en 16de putjies opgevolg terwyl sy teenstanders om hom begin verkrummel het. Hy het weliswaar op die vierde, sewende en 11de putjies houe aan baansyfer afgestaan, maar sy aanslag was steeds te sterk om enduit vol te hou.

Scheffler het 3,6 miljoen Amerikaanse dollar (R67 miljoen) met sy oorwinning verdien.

Van Rooyen kon ook tevrede gaan slaap het nadat hy R835 000 met sy 55ste plek verdien het.

* In die plaaslike Sonskynreeks is die geldkrane ook oopgedraai in die Toerkampioenskap, die laaste toernooi in vanjaar se reeks wat by die Serengeti-landgoed buite Kempton Park beslis is.

Jonathan Broomhead (272, -16) het sy eerste toernooi in die reeks gewen toe hy voor Louis Albertse en Rupert Kaminski (albei 274, -14) geëindig het.

Jayden Schaper was vierde (275, -13) gevolg deur JC Ritchie, Pieter Moolman, Neil Schietekat en Kyle Barker (almal op 276, -12) saam vyfde.

Maar Ryan van Velzen, Robin Williams en Albertse het die lekkerste gelag toe hulle bankrekenings stewig gebult het.

Van Velzen, wat twee toernooie in die reeks gewen het, het eerste op die verdienstelys geëindig en hy is met R500 000 beloon. Hy het ook spelersregte in die DP World Tour (Europe-reeks) bekom en kry uitnodigings na die Nedbank-uitdaagtoernooi, die Britse Ope en die Amerikaanse PGA.

Robin Williams was tweede op die verdienstelys (R200 00) en hy is ook as nuweling van die jaar gekroon, wat ʼn verdere bonus van R200 000 beteken het.

Albertse het R100 000 vir sy derde posisie op die verdienstelys ontvang, asook sy spelersregte in die DP World Tour.

Bronne: The Golf Channel, Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.