Koepka steek tong uit vir gholf se grotes

Brooks Koepka van die VSA op die derde gat tydens die tweede ronde van die Meesterstoernooi op Augusta. (Foto: David Cannon Collection/Getty Images/AFP)

Die tafel was gedek vir ʼn smullekker tweestryd tussen die voorste spelers wat in die omstrede LIV-gholfreeks speel, soos die Amerikaner Brooks Koepka en die topdrie op wêreldgholf se ranglys, Scottie Scheffler, Rory McIlroy en Jon Rahm.

Maar ná die onvoltooide tweede ronde van die Amerikaanse Meesters wat by die kroonjuweel op Augusta gespeel word, het daar dadels van gekom. Die feesmaal is Vrydag twee keer deur gure wind en ʼn elektriese storm beduiwel.

Koepka, wat reeds vier Majors agter sy naam kan skryf, was die voorloper in die klubhuis nadat hy 67 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Hy het op 132 houe geëindig (-12) wat drie houe beter is as dié van die Spanjaard Rahm (-9 ná nege putjies), die Amerikaanse amateur Sam Bennett (136, -8), gevolg deur Collin Morikawa en Viktor Hovland van Noorweë (albei -6) en Sam Burns, Jordan Spieth, Jason Day en Cameron Young (almal -5), toe die dag se spel ʼn tweede keer kortgeknip is.

Die storm het daartoe gelei dat drie bome op die 17de putjie ontwortel is en op die baan geval het. Gelukkig is geen van die duisende toeskouers beseer nie.

Rahm, derde op die gholfranglys, was saam met Koepka en Hovland (-7) die voorlopers ná die eerste ronde.

Rahm was op pad daarheen om Koepka, wat vroeg in perfekte weertoestande afgeslaan en uitgemunt het, in te haal met voëltjies op die 8ste en 9de putjie voordat die weer ingegryp het.

Die Amerikaner Scheffler, eerste op die ranglys, het 75 houe in die tweede ronde aangeteken en op -1 geëindig.

Die Noord-Ier McIlroy, tweede op die ranglys, sal sy vertoning so gou moontlik wil vergeet, want hy het op +5 geëindig en sal nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

Die Suid-Afrikaanse aanslag van Charl Schwartzel (147, +3), die belowende amateur Aldrich Potgieter (151, +7) en Louis Oosthuizen (-7 op die 17de putjie) het gekwyn.

Altesame 39 spelers moet nog hul tweede rondes voltooi, maar nog wind, reën en weerlig word vir Saterdag voorspel, wat die Meesters ʼn mynveld kan maak.

Maar breek ʼn lansie vir Bennett, die 23-jarige onbesonge amateur, wat een van sewe amateurs is wat speel. Sy vertoning is ʼn sprokiesverhaal, want hy slaan nie die bal te ver nie en sy swaai is onindrukwekkend.

Maar hy is 13 houe voor die ander voorste amateurs, Harrison Crowe en Mateo Fernandez de Oliveira, wat albei vyf houe oor baansyfer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.