Lexi gemaklik tussen die manne

Die VSA se Lexi Thompson. (Foto: Sam Hodde/Getty Images/AFP)

Swak lig het Donderdagmiddag Lexi Thompson se dag op die gholfbaan kortgeknip, maar voordat die Yank halt moes roep, was daar genoeg ligstrale sodat dié vroue-ster nie ontuis voorgekom het in die geselskap van die mans nie.

Thompson, elfmalige wenner op die vroue se LPGA-reeks, ding vandeesweek in die PGA-reeks se Shriners Children’s Ope in Las Vegas mee.

Die 28-jarige majorkampioen moes op die 17de putjie se setperk op die TPC Summerlin-baan haar stokke wegpak toe swak lig ’n vroeë einde aan die eerste ronde van die toernooi aan die Amerikaanse weskus gebring het.

Thompson se telling was in daardie stadium +1, met die gewilde gholfster van Florida wat die gevaar geloop het om nog ’n hou by die voorlaaste putjie aan syfer af te staan. Sy het ’n sethou van sowat sewe meter nodig gehad om syfer te red.

“Ek het nie te vrot gespeel nie, maar ook nie juis vir vuurwerke gesorg nie.

“ ’n Paar slegte houe het my duur te staan gekom, maar dit gebeur enige dag op enige tyd en in enige geselskap.

“Ek was op my gemak en het nie ontuis tussen die mans gevoel nie,” het Thompson ná die dag se spel gesê.

Sy beklee tans die gesamentlike 76ste posisie uit 132 deelnemers. Net die top-65‑spelers kwalifiseer vir die laaste 36 putjies.

Terwyl alle oë op Thompson gefokus was, het Beau Hossler stilweg ’n puik vertoning gelewer en met ’n telling van 62 (-9) die voortou geneem.

Hy word gejaag deur JT Poston en Cameron Champ op 63, met Lanto Griffin en Davis Thompson op 64 die volgende spelers boaan die voorlopersbord.

Erik van Rooyen (70) en Christiaan Bezuidenhout (71) het die beste van die SA spelers vertoon.

* In Madrid mik Jon Rahm na sy tweede agtereenvolgende Spaanse Ope-titel en die huidige Amerikaanse Meesterskampioen het sy veldtog met ’n stewige 67 (-4) afgeskop.

Rahm, derde op die wêreldranglys, was drie van die laaste vier jaar baas op die Club de Campo-baan en was na die eerste ronde tevrede met sy spel.

“Ek kon beter, maar kla nie. Ek hou van die baan en is in ’n stewige posisie na die eerste 18 putjies. Nou kan ek voet neersit en kyk wat gebeur,” het die Spaanse ster agterna gesê.

Die voorloper na dag een is die Fransman Matthieu Pavon op 63 (-8).

Hy het verlede jaar tweede agter Rahm geëindig en dit kan aanvaar word dat hy Sondag een trappie hoër op die podium sal wil staan.

Pavon word gevolg deur Will Besseling van Nederland (64), met die Engelsman Eddie Pepperell een van drie spelers wat op 65 die derde posisie deel.

Die voorste SA spelers in die veld is Deon Germishuys en Zander Lombard, wat op 66 saam sesde is.

Wilco Nienaber (-2), asook Louis de Jager en Thomas Aiken, wat albei 70 houe gespeel het, het almal die baansyfer oortref.

*By Sun City gee die Milnertonse beroepspeler Luca Filippi die pas aan ná die halfpadmerk van die Sonskynreeks se Blue Label-uitdaagtoernooi.

Die toernooi word op die Pilanesberg-oord se Gary Player- en Lost City-baan beslis en word op ’n puntestelsel gespeel.

Filippi het in Donderdag se tweede ronde ’n uitmuntende agt voëltjies op die moeilike Gary Player-baan behaal vir ’n totaal van 16 punte.

Saam met die 14 punte wat hy Woensdag op die Lost City-baan aangeteken het, geniet Filippi op 30 punte ’n voorsprong van vier punte op Ryan van Velzen.

Die voorloper ná dag een, Yurav Premlall, beklee met 23 punte die derde plek, met die Kapenaar Keenan Davidse op 21 in die vierde posisie.

Bykomende bronne: PGA Tour, DP World Tour, Sunshine Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.