Louis en kie kry ook streepsuiker

Louis Oosthuizen. (Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP)

Dis nie net die Springbokspan wat in Parys die wind van voor gekry het in die Wêreldbeker-toernooi teen Ierland nie, want in Chicago het vier van die span se grootste ondersteuners aan die agterspeen in die LIV-gholftoernooi gesuig.

Nadat Louis Oosthuizen ná die eerste ronde op ses houe onder die baansyfer saam voor was en die Suid-Afrikaners se Stinger-span ook tong uitgesteek het, het sake in Saterdagaand se tweede ronde skeefgetrek.

Die 30-jarige Colombiaan Sébastian Muñoz het 63 houe in die tweede ronde aangeteken en is op -13 houe die voorloper. Hy is drie houe voor Anirban Lahiri (-10), gevolg deur Thomas Pieters, Dustin Johnson en Abraham Ancer, wat almal saam op -8 by die klubhuis geëindig het.

Oosthuizen en Dean Burmester (albei -6) het die beste van die vier Suid-Afrikaners gevaar, met Charl Schwartzel (-4) en Branden Grace (-2) wat ook teruggesak het.

Dit het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaners se Stinger-span (-16) vanuit die eerste posisie tot die gesamentlike sesde posisie teruggesak het.

Torque en die Fireballs (albei -22) is die nuwe gesamentlike voorlopers, met 4Aces en die Crushers (albei -18) saam tweede.

Die Range Goats (-17) is vyfde, gevolg deur Stingers en die Majesticks (albei -16).

Kaminski wen PGA-kampioenskap

Op die St. Francis Links-baan in die Oos-Kaap het die jong Rupert Kaminski sy rekening in die Sonskynreeks geopen toe hy die PGA-kampioenskap met een hou gewen het.

Die laaste ronde was geskeduleer vir Sondag, maar die organiseerders het wyslik besluit om Saterdag die laaste twee rondes in te pas, aangesien stormsterk winde Sondag vir die Oos-Kaap voorspel word.

Kaminski het een hou voor Matthew Spacey geëindig, wat op die 16de en 17de putjies houe aan baansyfer afgestaan het wat sy kanse beduiwel het.

Kaminski het hom nou by Suid-Afrika se gholflegendes soos Gary Player, Dale Hayes, Ernie Els, David Frost en Louis Oosthuizen aangesluit wat ook die PGA-kampioenskap gewen het.

Kaminski, wat op 280 houe geëindig het, het Spacey (281) met een hou geklop, gevolg deur Ryan van Velzen, Adam Breen en Peter Karmis (al drie op 284, -4), met Jaco van Zyl en Aldrich Potgieter saam op 285 (-3).

Smith, Ferguson vat voor in Frankryk

In die Europese reeks en DP World Tour se Franse Ope wat by Le Club gespeel word, loop die Engelsman Jordan Smith en Ewen Ferguson van Skotland op 200 houe (-13) saam voor ná die derde ronde.

Hulle word op 201 houe (-12) in die derde posisie gevolg deur Japan se Kazuki Higa met Yannik Paul van Duitsland vierde op 202 (-11).

Suid-Afrika se Zander Lombard (205, -8) bly stewig in die wedloop. Sy landgenote Bryce Easton (208, -5), Hennie du Plessis en Thriston Lawrence (albei 211) en Louis de Jager (212) maak ook hul stemme dik.

Naelbyt-einde vir Solheimbeker

Die Solheimbeker-reeks vir vroue stuur Sondag by Finca Cortesin in Andalusië in Spanje op ʼn spannende einde af met die Europese en Amerikaanse spanne wat op 8-8 gelyk loop.

Europa was ná Vrydagoggend se viertalle met 0-4 agter, maar het groot veggees gewys en teruggeveg om Vrydagmiddag op 3-5 af te sluit.

Saterdagoggend se viertalle het met 2-2 gelyk geëindig, maar die Europeërs het die middag se viertalle met 3-1 gewen om die tweede dag op 8-8 saam met die Amerikaners af te sluit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.