Mostert wen in Gqeberha

Dylan Mostert wen die Nelson Mandelabaai-kampioenskap op die Sonskyntoer, (Foto: Facebook)

Dylan Mostert (-16) het al die aanslae afgeweer en die Nelson Mandelabaai-kampioenskap op die Sonskyntoer gewen. Hy het dit byna verbrou toe hy op die 16de putjie ʼn hou aan syfer afgestaan het, maar ʼn voëltjie op die 18de het hom in die winderige stad laat wen.

Jaco Prinsloo (15) was tweede nadat hy ʼn uitstekende 62 in sy laaste rontde gespeel het om ʼn hele klompie plekke op te skuif. Sy rondte het agt voëltjies en ʼn arend 3 op die 17de putjie op die Humewood-baan ingesluit.

Ruaidhri McGee (Ierland), Lorenzo Scalise (Italië), JJ Senekal (Suid-Afrika) en die Fransman Tom Vaillant was in die gesamentlike derde plek. Vaillant was na sy laaste rondte duidelik teleurgesteld nadat hy vanoggend as voorloper afgeslaan het. Brouhoue op die negende en tiende putjies het sy wenkanse in die wiele gery.

Marcel Siem (-14) van Duitsland het die Indiese Ope op die DP World-toer met een hou gewen. Die 42-jarige Siem se loopbaan ry reeds geruime tyd wipplank. Hy het agt jaar laas ʼn toernooi gewen en moes ook weer kwalifiseer om op die Europese gholftoer te speel. Hoewel hy reeds vyf titels op die toer gewen het, is dit reeds byna 19 jaar sedert sy eerste toernooi-oorwinning.

Nog ʼn Duitser, Yannik Paul (-13), was in die tweede plek met Joost Luiten (-12) van Nederland in die derde plek.

Jayden Schaper (-4) van Suid-Afrika was in die gesamentlike 13de plek.

In die Honda-toernooi op die vrouetoer in Thailand het die Amerikaner Lilia Vu (-22) met een hou gewen. Ashleigh Buhai (-15) van Suid-Afrika het haar laaste rondte goed begin met drie voëltjies op die eerste sewe putjies, maar daarna kon sy nie beter as syfer vaar nie en het ʼn hou aan syfer afgestaan op die 16de putjie. Sy was in die gesamentlike tiende plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.