Oosthuizen skop steeds vas in LIV-toernooi

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen. (Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen blaas ná die tweede ronde van die LIV-gholftoernooi wat in Tucson, Arizona, gespeel word, steeds in die voorloper Marc Leishman van Australië se nek.

Oosthuizen het 68 houe in Saterdagaand se tweede ronde aangeteken, wat vyf voëltjies ingesluit het. Maar Oosthuizen het ook houe aan baansyfer op die tweede en 13de putjies afgestaan en is op 134 houe, agt onder die baansyfer.

Hy is net drie houe agter Leishman (131, -11).

Spanje se Sergio Garcia is tweede (133, -9) met die Amerikaners Charles Howell III, Cameron Tringale en Brendan Steele saam met Oosthuizen in die derde posisie.

Branden Grace is op 137 (-5), Dean Burmester op 140 (-2), maar Charl Schwartzel het gesukkel en is op 149 (+7).

Die Suid-Afrikaanse Stingers-span is op -15 in die vierde posisie in die spanafdeling agter die Fireballs (-22), HyFlyers (-21) en Ripper (-17).

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Valspar-kampioenskap wat op die Copperleaf-baan in Palm Harbor, Florida, gespeel word, is die Amerikaner Adam Schenk (205, -8) met een hou voor sy landgenoot Jordan Spieth en Engeland se Tommy Fleetwood (albei 206, -7).

Hulle word in die gesamentlike vierde posisie deur die Amerikaners Taylor Moore, Cody Gribble en Webb Simpson (almal op 207, -6) gevolg.

Suid-Afrika se Garrick Higgo is op 212 (-1) in die 25ste posisie met MJ Daffue en Erik van Rooyen saam op 214 (+1) in die 45ste plek.

* Op die St. Francis-linksbaan in die Oos-Kaap word die derde ronde van die SDC-kampioenskap vroeg Sondagoggend voltooi nadat dit te donker geraak het om Saterdag voort te speel.

Dit het gevolg nadat stormsterk winde die eerste twee rondes vroeg beëindig het en die spelers eers die tweede ronde Saterdagoggend moes voltooi het voordat hulle in die derde ronde kon afslaan.

Kristian Krogh Johannessen van Noorweë en Matthew Baldwin van Engeland was saam voor op -11 nadat albei 13 putjies voltooi het.

Hulle word gevolg deur Joost Luiten van Nederland, Daniel Brown van Engeland en Jens Dantorp van Swede, wat almal saam op -9 is.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence is op -8 nadat hy sy ronde voltooi het in 68 houe.

Sy landgenote Trevor Fisher, Jaco Ahlers en Shaun Norris is almal op 210 (-6), asook Brandon Stone en Albert Venter, wat nog op die baan was toe dit te donker geraak het.

Die toernooi is deel van die Road to Dubai-reeks.

* Op die Laguna National-baan in Singapoer loop die Franse speler Pauline Bouchard op 201 (-15) met vier houe voor ná die derde ronde van die Aramco-toernooi wat deel is van die Europese reeks vir vroue.

Bouchard, wat 64 houe in die derde ronde aangeteken het, is vier houe voor Danielle Kang van Amerika (205, -11), gevolg deur Nieu-Seeland se Lydia Ko op 206 (-10).

Suid-Afrika se Nicole Garcia het in die derde ronde gesukkel en 75 houe aangeteken. Sy het op 212 houe (-4) geëindig, met haar landgenote Casandra Alexander en Kaleigh Telfer albei op 217 in die 28ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.