Oosthuizen wil Amerikaanse Ope-titel hê

Louis Oosthuizen (Foto: Louis Oosthuizen/Facebook)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het ’n skitterronde van 66 (vyf houe onder die baansyfer) op die eerste dag van die Amerikaanse Ope op die Pebble Beach-gholfbaan geslaan.

Die 36-jarige het die tweede dag net een hou agter Engeland se Justin Rose (-6) begin. Oosthuizen deel die tweede plek met Amerika se Rickie Fowler, Xander Schauffele en Aaron Wise.

Dié Ope‑kampioen van 2010 het ’n arend op die 11de putjie behaal. Kort daarna het nóg ’n voëltjie gevolg, maar hy het effens op die 16de putjie gesukkel. Twee agtereenvolgende voëltjies het sy ronde egter weer op koers gebring.

Saam met sy kampioenskapsege van nege jaar gelede, het die Suid-Afrikaner vier tweede plekke agter sy naam in Majors-toernooie.

“Om net ’n major te wen is reeds iets kosbaar. Om die Amerikaanse Ope te wen sal iets besonders wees vir my.

“Dit is iets waarvan ’n gholfspeler net kan droom: Om die Ope, sowel as die Amerikaanse Ope te wen. Ek dink Pebble is waarskynlik my gunstelingvenue vir ’n Amerikaanse Ope. Jy gaan nie sommer dié natuurskoon elders kry nie. Dan maak die weertoestande dinge ook baie spesiaal.”

Die volgende Suid-Afrikaner op die telbord is Jovan Rebula, wat ’n indrukwekkende ronde van 70 (-1) gespeel het. Die 21-jarige is familie van die Suid-Afrikaanse gholflegende Ernie Els.

Dié twee het juis vooraf ’n oefenronde saamgespeel en Rebula het gesê dat dit sy spel baie gehelp het.

“Ek het lekker tyd saam met my oom deurgebring en ’n paar goeie oefenrondes saam met hom gespeel. Om tyd saam met jou familie deur te bring is baie spesiaal,” het Rebula gesê.

“Om ’n kans te kry om in die Amerikaanse Ope te speel, om nie eens van Pebble Beach te praat nie, is iets wat woorde nie kan beskryf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.