PGA-gholfreeks kry miljarde van beleggers

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

(Argieffoto: pixabay)

Die Amerikaanse PGA-gholfreeks is vandag $3 miljard (sowat R56 miljard) ryker.

En nagenoeg 200 beroepspelers wat lojaal teenoor die PGA-reeks gebly en aanloklike aanbiedinge van die LIV-reeks van die hand gewys het, gaan deel in hierdie meevaller wat die Amerikaanse reeks ontvang het nadat hy hande gevat het met ʼn groep bekende sakemanne wat in die sportwêreld hul brood en botter verdien.

Die groep lojale PGA-spelers sal tussen hulle $930 miljoen (meer as R17 miljard) in aandele in die gholfliggaam se nuwe winsgedrewe maatskappy, PGA Tour Enterprises, ontvang.

ʼn Verdere sowat $600 miljoen (meer as R11 miljard) sal vir ʼn tydperk van vyf jaar opsy gesit word vir aandele vir toekomstige spelers.

Die nuus oor die aandele-toekenning aan die spelers is Woensdag deur die PGA-reeks in ʼn verklaring bekend gemaak waarin sy nuwe vennootskap met die Strategic Sports Group (SSG) bevestig is. Die SSG is ʼn groep Amerikaanse sakelui wat verskeie bekende sportspanne besit en bedryf.

John Henry, die grootbaas van die Fenway Sports Group wat Liverpool, die Boston Red Sox en die Pittsburgh Penguins besit, is die dryfveer agter SSG.

Die SSG het $3 miljard (nagenoeg R56 miljard) betaal vir ʼn aandeel van 25% in PGA Tour Enterprises.

Dié nuwe maatskappy sal die PGA-reeks se toekomstige bemarking doen en besit die reeks se handels- en mediaregte, wat tans jaarliks ʼn inkomste van $1,5 miljard (sowat R28 miljard) het.

Henry-hulle glo hulle kan in die toekoms tien keer meer geld as tans vir die PGA-reeks invorder en het daarom nie gehuiwer nie om miljarde te betaal om hande met die PGA-reeks te vat.

Die reeks se huidige kommissaris, Jay Monahan, sal die uitvoerende hoof van PGA Tour Enterprises wees. Hy sal ook dien as voorsitter van ʼn direksie van 13 lede, wat sewe spelers en vier SSG-lede sal insluit.

Monahan het Woensdag bevestig onderhandelinge met die voorsitter van Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds (PIF), Yassir Al-Rumayyan, duur steeds voort. Volgens Monahan is lede van die SSG betrokke by die gesprekke met die LIV-gholfbaas oor die PIF se moontlike toekomstige betrokkenheid by PGA Tour Enterprises.

ʼn Belang van 25% is skynbaar aan PIF aangebied, wat die nuwe maatskappy se geldkoffers verder sal stu en die spel se toekoms sal verseker.

Volgens ingeligtes is die kanse glo goed dat die PIF ja gaan sê vir die PGA Tour Enterprises-aanbod, al wou hulle aanvanklik alleen sake met die PGA-reeks doen.

Die voortbestaan van die LIV-reeks is glo nou die rede wat ʼn moontlike ooreenkoms vertraag.

Al-Rumayyan wil skynbaar hê dat die LIV-reeks op sy eie voortgaan en nie deel word van die nuwe pas gestigte gholfonderneming nie.

Die Saoedi-Arabiese gholfbaas wil egter hê die LIV-spelers moet in die PGA-reeks kan speel wanneer hulle wil – sonder enige sanksies wat hul deelname aan die reeks belemmer.

Met hul sakke skielik vol geld en die toekoms wat baie meer rooskleurig lyk as ʼn paar maande gelede, sal dit interessant wees om te sien wat Monahan-hulle se standpunt oor Al-Rumayyan se eise gaan wees.

Die finale besluite oor enigiets berus egter steeds by die PGA-spelers, wat nou as volwaardige aandeelhouers meer insae het as vantevore.

Met die laaste peiling was die anti-LIV-sentiment baie hoog en net tyd sal leer of die spelers voel dat die aandele wat hulle gaan kry, genoegsame vergoeding is vir hul lojaliteit aan die PGA-reeks.

  • Bykomende inligting: Golf.com, PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.