Putjiespeltoernooi: Rory en Scottie in halfeindronde

Scottie Scheffler in aksie. (Foto: Mike Mulholland / Getty Images via AFP)

Die WGC-Dell Technologies se Wêreldputjiespeltoernooi wat in Austin, Texas, beslis word, stuur op ʼn hoogtepunt af waarvan die organiseerders gedroom het.

Twee van die wêreld se voorste drie spelers, Scottie Scheffler van Amerika (eerste op ranglys) en Rory McIlroy van Noord-Ierland (derde) is albei deur tot die halfeindronde.

Scheffler het die Australiër Jason Day met twee en een in die kwarteindronde uitgeskakel en kom teen Sam Burns te staan nadat hy Mackenzie Hughes van Kanada uitgeskakel het.

Scheffler was met drie houe agter ná ses putjies teen Day, maar die Aussie, wat kwaai met allergieë gesukkel het, moes ʼn dokter inroep om te kom help.

Dit het Scheffler in staat gestel om terug te veg.

McIIroy het die Amerikaner Xander Schauffele op die 18de putjie met een hou voor geklop nadat hy ʼn sethou van sowat drie meter ingerol het.

McIlroy speel in die halfeindronde teen Cameron Young (Amerika).

McIlroy het nege voëltjies in sy kragmeting in die kwarteindronde teen die Australiër Lucas Herbert aangeteken en met nog ses teen Schauffele opgevolg, maar het albei wedstryde eers op die 18de putjie beklink.

* Op die Steyn City-gholfbaan wat tussen Lanseria en Fourways geleë is, het die Duitser Alexander Knappe in die derde ronde van die Jonsson Workwear-toernooi, wat onder die vaandel van die Sonskynreeks en DP World Tour aangebied word, knap gedaan.

Knappe het op ʼn reënerige dag wat tot laat afslaantye gelei het, 65 houe in die derde ronde aangeteken om op 199 (-17) met een hou voor te loop.

Knappe, wat verlede jaar die Dimension Data Pro‑Am in Suid-Afrika gewen het, word deur Suid-Afrika se Hennie du Plessis, Swede se Joakim Lagergren, Gavin Green van Maleisië en die Duitser Nick Bachem op 200 houe (-16) gejaag.

Lagergren het na vore gestorm toe hy ʼn foutlose 63 houe aangeteken het en Du Plessis het met ʼn ronde van 65 geantwoord.

Die Skot Ewen Ferguson, Martin Vorster van Suid-Afrika en die Fransman Romain Langasque is saam op 201 (-15) met Suid-Afrika se Ockie Strydom op 202 (-14).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Drive On-kampioenskap wat by die Superstition Mountain-buiteklub in Arizona gespeel word, loop die Franse speler Celine Boutier (200, -16) met een hou voor Alison Lee van Amerika, Moriya Jutanugarn van Maleisië en Hae-Ran Roy van Korea wat saam op 201 houe (-15) afgesluit het.

Daar is ʼn groot bottelnek met 12 spelers wat saam in die vyfde posisie op 201 (-13) is.

Suid-Afrika se Paula Reto is op 212 (-4) maar in die 72ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.