Rustiger Jaeger pluk die vrugte

Stephen Jaeger vat ‘n blaaskans op die gholfbaan. (Foto: X/ Stephen Jaeger)

Die Duitse gholfspeler Stephan Jaeger het reeds ses toernooie in die Korn Ferry-reeks gewen, maar ʼn oorwinning in die Amerikaanse PGA‑reeks ontwyk hom steeds.

Nou staan hy op die drumpel daarvan om sy rekening in die Farmers Insurance-toernooi te open, wat op Torrey Pines in San Diego, Kalifornië, gespeel word.

Jaeger het die eerste drie rondes in 205 houe (-11) voltooi en is een hou voor Nicolai Hojgaard van Denemarke en Mathieu Pavon van Frankryk, wat albei op 206 houe (-10) in die klubhuis geëindig het.

Hulle word deur Thomas Detry van België op 207 (-9) gevolg.

Die 34-jarige Jaeger het die afgelope ses maande gaan kers opsteek by die sportsielkundige Julie Elion en dit het reeds baie vrugte afgewerp.

Jaeger mediteer nou elke dag vir minstens 10 tot 15 minute en hy het sy humeur en aggressie op die gholfbaan onder beheer.

Hy is baie rustiger en vestig ook nie meer al sy aandag op gholf nie. Hy sê hy probeer ook om ʼn beter pa vir sy kind te wees.

Elion word baie hoog geag en Wyndham Clarke, wat verlede jaar die Amerikaanse Ope gewen het, word ook deur haar onder hande geneem.

In die Drive On-kampioenskap vir vroue (LPGA-reeks) wat by die Bradenton-buiteklub in Florida gespeel word, loop die Amerikaner Nelly Korda op 132 (-10) met twee houe voor So-mi Lee (Suid-Korea), met Nieu‑Seeland se Lydia Ko, Ayaka Furue (Japan) en Xiyu Lin van China saam derde op 135.

Ko, wat ná die eerste ronde saam met Korda met 65 houe voorgeloop het, het 70 houe in die tweede ronde aangeteken, terwyl Korda 67 houe in die tweede ronde gespeel het.

Suid-Afrika se Paula Reto kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

In die Ras Al Khaimah-kampioenskap wat by die Al Hamra-buiteklub gespeel word, het Suid-Afrika se Zander Lombard op sy goeie peil van die afgelope paar weke voortgebou in die tweede ronde van dié toernooi in die DP World Tour.

Lombard het twee rondes van 66 houe gespeel en is op 132 houe (-12) net twee houe agter die voorloper, Rasmus Hojgaard van Denemarke, wat op 130 houe (-14) klaargemaak het.

Die Spanjaard Manuel Elvira, Thorbjorn Olesen van Denemarke en Callum Shinkwin van Engeland is saam tweede op 131 houe (-13).

Van die ander Suid-Afrikaners het Brandon Stone (130, -10) ook uitgeblink, met Jaco Prinsloo (137), Hennie du Plessis (138), Jayden Schaper (130), Louis de Jager (140) en Dylan Frittelli (141) wat ook vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het.

Op die Maccauvlei-gholfbaan in Vereeniging loop Neil Schietekat ná rondes van 70 en 64 houe op 134 (-10) met twee houe voor Jovan Rebula, Oliver Bekker, Sean Bradley, Ryan van Velzen en Willie Olivier (almal saam op 135, -9) in die Mediclinic-uitnodigingstoernooi wat deel is van die plaaslike Sonskynreeks.

Hulle word op 136 gevolg deur Sean Cronjé, Peter Karmis, Yurav Premlall, Dylan Mostert en Jacques P de Villiers.

Bronne: The Golf Channel en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.