Ryderbeker: Só het Europa vir Amerika lamgelê

Luke Donald en sy span vier fees by die Ryderberker. (Foto: Ciro de Luca/NurPhoto/AFP)

In rugbykringe word daar gesê dat tuisveldvoordeel ʼn span se 24ste speler is.

Dink maar aan Loftus Versfeld en Ellispark.

Die afgelope drie dae by die Marco Simone-buiteklub buite Rome het die Europese gholfspan ʼn 13de speler in sy geledere gehad in die Ryderbekerbeker-spanstryd teen Amerika: die passievolle toeskouers.

Die skare het daagliks tot 50 000 aangegroei en het ʼn baie groot rol gespeel. Hulle het geraas, gesing en elke hou van die Europeërs toegejuig. Dit kon sekerlik nie maklik vir die Amerikaners gewees het nie … om die hele tyd aan die toeskouer-agterspeen te suig.

ʼn Mens kon dit in hul liggaamshouding ervaar, maar dit is die aard van die toernooi.

Die skare het die Europese span aangespoor om Amerika met 16.5 – 11.5 te klop en sodoende sy onoorwonne status tuis tot 30 jaar te rek.

Die tafel was reeds Vrydag gedek vir ʼn Europese sege toe die span skoonskip in die oggend se beurtspelle met 4 – 0 gemaak het. Toe die Europeërs dit in die middag se beurtspelle vergroot, was die slag gelewer.

Die Europese span het Saterdag daarop voortgebou en ʼn byna onaanvegbare voorsprong van 4.5 punte opgebou.

Geen span kon nog voorheen met só ’n groot agterstand in die enkelspelle dit inhaal nie.

Die Amerikaners het nie gaan lê nie; hulle het nie die ander wang gedraai nie en ook nie toegelaat dat die toeskouers hulle ontsenu nie.

Maar die agterstand was eenvoudig net te groot.

Europese jongelinge soos Ludwig Åberg, Rasmus Højgaard en Robert McIntyre het as seuns begin, maar as manne geëindig.

Dan het die ervare Jon Rahm en Rory McIlroy die mantel gedra, in die kollig beweeg … iets wat by die Amerikaanse span ontbreek het.

Dit was ʼn wipwaentjierit van emosies, van passie, durf en daad vir die Europeërs.

Dit is waaroor sport gaan: oor spangees, om mekaar te ondersteun. Om by die eindstreep of wenpaal uit kom waar jou spanmaats op jou wag en jou omhels.

Die ironie was dat die Europese spankaptein, Luke Donald, wat na alle waarskynlikheid gevra sal word om aan te bly, eers ʼn jaar gelede die leisels by Henrik Stenson oorgeneem het wat hom by die LIV-reeks aangesluit het.

Donald moes ook sonder Sergio Garcia (hy het in sy Rydekerbeker-loopbaan 28.5 punte in tien toernooie verdien), Ian Poulter, Paul Casey en Lee Westwood klaarkom, wat ook in die LIV-reeks speel.

Donald het raakgevat met sy kapteinkeuses, soos Åberg, wat slegs drie maande gelede ʼn beroepspeler geword het. Saam met Højgaard en McIntyre het hulle geskitter.

MacIntyre het onoorwonne afgesluit met 2.5 punte in drie wedstryde, Åberg het twee punte verdien en Højgaard ʼn halwe punt.

Die gordyn het nou oor 2023 se toernooi gesak, maar nuwe helde is gebore. Maar net tot die volgende toernooi oor twee jaar in New York by Bethpage Black.

Sondag se uitslae (enkelspelwedstryde): Europa eerste genoem: Jon Rahm en Scottie Scheffler halveer; Viktor Hovland klop Collin Morikawa met 4&3; Justin Rose verloor met 2&1 teen Patrick Cantlay; Rory McIlroy klop Sam Burns met 3&1; Matt Fitzpatrick verloor met een voor teen Max Homa; Tyrrell Hatton klop Brian Harman met 3&2; Ludwig Åberg en Brooks Koepa halveer; Sepp Straka en Justin Thomas halveer; Rasmus Højgaard en Xander Schauffele halveer; Shane Lowry en Jordan Spieth halveer; Tommy Fleetwood klop Rickie Flower met 3&1; Robert MacIntyre klop Wyndham Clark met 2&3.

Eindtelling: Europa 16.5  Amerika 11.5.

  • Bykomende bronne: BBC en The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.