SA Ope: Grace onttroon koning Louis as kampioen

Die Suid-Afrikaner Branden Grace is die nuwe SA Ope-kampioen. (Foto: SA Open/Twitter)

Dit was ʼn perfekte draaiboek vir die 37-jarige Louis Oosthuizen om Sondag op die Randpark-baan in Johannesburg die Suid-Afrikaanse Ope-gholftoernooi ʼn tweede opeenvolgende jaar te wen.

Veral toe hy op die agtste putjie ʼn kolhou op die syfer 3-putjie behaal het om die voortou in die vierde en laaste ronde te neem.

Die duisende toeskouers was rasend, want Oosthuizen, geklee in ʼn donkergroen hemp, het die gedagtes na ʼn paar maande gelede in Jokohama in Japan laat terugdwaal toe die Springbokke die Wêreldbekertoernooi gewen het.

Maar iemand het nagelaat om die draaiboekskrywers (en die ondersteuners en media) in kennis te stel van Branden Grace.

Grace, wat die laaste ronde in ʼn skitterende 62 houe, nege houe onder die baansyfer aan flarde geruk het, het sy eerste SA Ope by sy versameling van agt oorwinnings in die Europese reeks en ʼn sege in die Amerikaanse reeks gevoeg.

Grace het op 263 houe geëindig, 21 houe onder die baansyfer nadat hy rondtetellings van 64, 70, 67 en 62 aangeteken het. Hy het drie houe voor sy groot vriend Oosthuizen (266) geëindig, wat 68 houe in die ronde aangeteken het nadat hy Sondagoggend as voorloper en groot gunsteling afgeslaan het.

Die Engelsman Marcus Armitage, wat ʼn lang voëltjieset op die 18de ingerol het, was derde (268) gevolg deur nog ʼn Engelsman Jack Senior en Jaco Ahlers (albei op 269).

Die jong amateur Jayden Trey Schaper het die Freddie Tait-trofee as die voorste amateur gewen toe hy in die gesamentlike sesde posisie (271) geëindig het.

Die 31-jarige Grace, wat in Pretoria gebore is maar in Buffelsbaai woon, het nege voëltjies aangeteken en net 22 sethoue gespeel.

Wanneer Grace die dag warm is, is hy vuurwarm, soos in 2016 se Britse Ope toe hy ook 62 houe, ʼn nuwe baanrekord en die laagste telling nog in ʼn Major aangeteken het.

Grace het sy plek saam met Armitage en Ahlers in vanjaar se Britse Ope bespreek en hy kan R2 773 750 in sy sak steek.

Glad nie sleg nie, veral as in ag geneem word dat hy R10 546 met elkeen van sy 263 houe wat hy die afgelope vier dae geslaan het, verower het.

Meer nog, Grace se naam is nou saam met legendes soos Gary Player (13 oorwinnings), Bobby Lock (9), Sid Brews (87) en Ernie Els (5) op die SA Ope-trofee (wat nie ʼn naam het nie) gevoeg … en moenie dié van Oosthuizen, David Frost en Retief Goosen vergeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiepie ·

Ek is mal oor Louis maar hy is nie ‘n “finisher” nie. Moes al baie meer toernooie gewen het met al die geleenthede wat hy al gehad het. Hy plaas homself in goeie posisies vir die laaste dag maar kan om een of ander rede nie perform wanneer die druk op is nie. Die dat hy al die “bridesmaid” was in al 4 Majors maar slegs die een kon wen waarin hy die laaste dag met ‘n voorsprong van iets soos 5 houe afgeslaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.