SA se Easton tem Majorka-baan

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Bryce Easton. (Foto: @Bryce_Easton/Twitter)

Baie Suid-Afrikaners sal Saterdagoggend kopkrap as hulle die voorloperbord van die Majorka-ope wat by die Golf Santa Ponsa-gholfbaan in Majorka, Spanje, gespeel word, van nader beskou.

“Wie is voor? Bryce wie?” sal ʼn groot meerderheid vra ná die tweede (onvoltooide) ronde van dié toernooi wat deel is van die Europese reeks.

Die 34-jarige Bryce Easton wat in Durban gebore is en grootgeword het, is slegs 554ste op die jongste wêreldranglys, maar hy het vriend en vyand verras en was op die 17de putjie, toe swak lig die tweede ronde vroeg beëindig het, alleen voor.

Nadat hy 63 houe in die eerste ronde aangeteken het, het hy dit met nog vyf voëltjies in die tweede ronde opgevolg en is hy twee houe voor die Spanjaarde Jorge Campillo, Sebastian Garcia, Alvaro Quiros en die Deen Jeff Winther.

Easton, wat drie toernooie in die Sonskynreeks, die Zimbabwiese Ope, die Sun City-uitdaagtoernooi en die Vodacom Origins of Golf-toernooi op Zebula gewen het, het nog nooit volle spelersregte in die Europese reeks gehad nie, maar as hy kan volhou, kan hy sy drome bewaarheid.

* In die Zozo-kampioenskap (dit is deel van die Amerikaanse PGA-reeks) wat in Chiba, Japan, op twee bane beslis word, loop die Japanner Hideki Matsuyama voor ná die tweede ronde op 132 houe (nege houe onder die baansyfer).

Hy word gevolg deur Matt Wallace van Engeland (134) en Sebastian Munoz van Colombia (136).

Suid-Afrika se Branden Grace is 13de nadat hy 66 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Erik van Rooyen (138) en Shaun Norris (14) is verder terug.

Garrick Higgo (148) is heeltemal uit die wedloop.

* In die plaaslike Sonskynreeks loop Anton Haig en Rupert Kaminsky (albei 137) saam voor ná die tweede ronde van die Blair Atholl-kampioenskap wat buite Centurion beslis word.

Hulle word op 138 houe deur Heinrich Bruiners, Niel Schietekat, Riekus Nortje en Luke Brown gevolg.

* In die BMW-kampioenskap vir vroue wat in Buson in Suid-Korea beslis word, is Hee-Jeong Lim (-15) voor, gevolg deur haar Suid-Koreaanse landgenoot Hae-Ran Ryu (-13). Die Amerikaner Alison Lee, Jin-Young Ko en In-Gee Chun (almal Suid-Korea) is almal op -11.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (+7) is op 150 houe laaste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.