SA se Reto is voorloper

Die Suid-Afrikaner Paula Reto by die Amundi Evian-kampioenskap. (Foto: Millereau Philippe/KMSP/AFP)

Die Suid-Afrikaner Paula Reto het Donderdag in Frankryk soos ʼn towenaar die een sethou ná die ander ingerol om die voortou te neem na die eerste rondte van die Amundi Evian-kampioenskap.

Die 33-jarige Kaapse gholfster het met ʼn telling van 64 houe – sewe houe minder as die baansyfer – die pas met twee houe aangegee in die jaar se voorlaaste Major-toernooi in Evian-les-Bains in die ooste van Frankryk, naby die grens van Switserland.

Reto, wat verlede jaar haar eerste sege in die LPGA-reeks behaal het toe sy die Kanadese Ope gewen het, het nie haar dag goed begin nie en het by haar tweede putjie (die baan se 11de) ʼn brouhou aangeteken.

Maar dit was die einde en laaste van Reto se probleme.

Sy het daarna drie voëltjies oor die volgende sewe putjies aangeteken om in 34 (-2) te draai.

Nog ʼn voëltjie by Reto se tiende putjie (die baan se eerste) het haar telling na -3 verbeter, waarna sy met ʼn puik eindpoging vier voëltjies oor die laaste vyf putjies aangeteken het om haar naam boaan die voorlopersbord te laat pryk.

Reto het net 24 sethoue nodig gehad oor die eerste 18 putjies.

“Ek was hier en daar gelukkig met balletjies wat reg gebons het, maar ek het ook baie goeie houe van hoogstaande kwaliteit geslaan.

“Dit is ʼn wonderlike baan met sprokies-uitsigte en ek is net bly dat ek vir ʼn slag goed gespeel het. My setwerk was goed,” het Reto agterna gesê.

Sy het verlede jaar haar beste seisoen nog in haar loopbaan beleef en afgesien van haar deurbraak-oorwinning in die VSA ook in Suid-Afrika geseëvier toe sy op Sun City ʼn wegholoorwinning in die plaaslike Sonskynreeks se SuperSport-toernooi behaal het.

Maar vanjaar was tot dusver ʼn droewige seisoen vir Reto en sy kon in haar laaste vier toernooie slegs een keer die halfpad-afsnymerk oorleef. Dit was in verlede week se Dow Greater Lakes Bay-spantoernooi, waarin sy en haar speelmaat, Amelia Lewis, gesamentlik negende geëindig het nadat hulle ná twee rondtes die voorlopers was.

Reto het duidelik ʼn bietjie selfvertroue herwin met haar vertoning in die geselskap van Lewis en sy het oor die eerste 18 putjies gelyk soos die kampioen wat sterre soos Nelly Korda verlede jaar in Kanada op hul neuse laat kyk het.

Ashleigh Buhai kon nie haar landgenoot se spel ewenaar nie en die Britse, Suid-Afrikaanse en Australiese Ope-kampioen het vir ʼn telling van 72 geteken.

Reto word gejaag deur Celine Boutier, Lydia Ko, Alison Lee en Meecha Wichance wat almal ʼn telling van 66 geteken het.

Nege spelers deel op 67 die sesde plek.

Die groot kanonne Linn Grant, Brooke Henderson, Attaya Thitikul en Rose Zhang het almal 69 houe gespeel.

Jiminez voor by seniors

Die Spanjaard Miguel Angel Jiminez is die voorloper met twee houe ná die eerste rondte van die senior Britse Ope, wat op die Royal Porthcawl-baan aan die weskus van Wallis gespeel word.

Jiminez het die eerste 18 putjies van dié Major-toernooi in 67 houe (-5) voltooi om die dag in die eerste posisie af te sluit.

Alex Cejka (-3) het die naasbeste vertoning van die dag gelewer, met Jeev Singh, Vijay Singh en Mario Tiziani wat op -2 die volgende beste spel opgedis het.

Keith Horne het op gelyk aan syfer die Suid-Afrikaanse vlag gedra.

Spacey speel uitstekend

In die plaaslike Sonskynreeks het Matthew Spacey ʼn uitmuntende telling van 62 houe (-10) in die eerste rondte van die Eswatini-uitdaagtoernooi aangeteken om ʼn voorsprong van twee houe te neem ná die eerste dag van die driedaagse stryd in Manzini.

Die 33-jarige Spacey het ʼn foutlose dag op die gholfbaan beleef en altesame tien voëltjies aangeteken sonder om ʼn hou aan syfer af te staan.

Hy het elke skoonveld met sy bofhoue raakgeslaan en net een setperk met sy naderhoue gemis. Dit wil gedoen wees in enige geselskap.

Leon Visser (64) en Peter Karmis (66) is die spelers naaste aan Spacey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.