Stone beïndruk met Randpark-baan

Brandon Stone. (AP Photo/Charlie Riedel)

Brandon Stone is beïndruk met Randpark se speelveld en voorspel dat die spelers beslis nie oor die baan kan kla wanneer die Suid-Afrikaanse Ope môre in Johannesburg begin nie.

“Die baan is in só ’n perfekte toestand, ʼn mens sal nogal taamlik skuldig voel wanneer jy ’n stukkie gras uitslaan,” het die 26-jarige speler in ’n onderhoud gesê.

“Die setperk is ook ongelooflik. As jy op die skoonveld kan bly en dan die setperk tref, sal jy goed doen. Dit is egter nie ’n maklike taak nie en die baan verdien beslis ’n speler se respek.”

In 2016 het Stone die SA Ope op Glendower gewen, sowel as die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek. In 2018 het hy die Skotse Ope gewen nadat hy ’n skitterronde van 60 gespeel het. Hy is beslis ’n jong speler wat sy stem by verskeie toernooie dik maak.

Tog was 2019 nie sy beste jaar nie en hy het hard oor die Kerstydperk geoefen om sy spel weer op koers te kry.

“Ek tref die bal tans baie goed op die afslaanbof – dryfwerk is beslis een van my sterk punte. Louis Oosthuizen het natuurlik verlede jaar met die Ope-titel weggestap en ek glo die trofee gaan in Suid-Afrikaanse hande bly. Daar is ’n baie sterk plaaslike groep spelers – ouens soos Branden Grace en Charl Schwartzel wat van môre sake gaan uitspook.”

Afslaantye vir Donderdag se eerste ronde:

  • Firethorn-baan:

11:45: George Coetzee, Gavin Green (Maleisië) en Zander Lombard

11:55: Branden Grace, Andy Sullivan (Engeland) en Erik van Rooyen

12:10: Charl Schwartzel, Thomas Detry (België en Eddie Pepperell (Engeland)

  • Bushwillow-baan:

08:15: Brandon Stone, Danie van Tonder en Rasmus Hojgaard (Denemarke)

08:25: Richard Sterne, Justin Hardin en Chris Paisley (Engeland)

08:35: Louis Oosthuizen, Christiaan Bezuidenhout en Jayden Schaper

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.