Stone, Higgo laat SA vlag wapper  

Brandon Stone. (Foto: Limpopo Championship/Facebook)

Dit was ʼn goue Sondag vir Suid-Afrika se gholfspelers in die Sonskyn- en Europese gholfreeks.

Brandon Stone het by die Euphoria-buiteklub in Mookgophong (Naboomspruit) die Limpopo-kampioenskap op die eerste uitspeelputjie gewen nadat hy drie van sy Suid-Afrikaners landgenote uitgestof het.

Stone, Hennie du Plessis, Daniel van Tonder en Oliver Bekker het saam op 280 houe geëindig, agt onder die baansyfer.

Op die eerste uitspeelputjie het Stone ʼn voëltjie aangeteken, R475 500 in sy sak gesteek en die voortou in die Sonskynreeks se verdienstelys geneem.

Die kollig het toe na Las Palmas in Spanje verskuif waar die 21-jarige linkshandige Garrick Higgo sy tweede toernooi in die Europese reeks gewen het, toe hy eerste in die Gran Canaria-ope geëindig het.

Garrick Higgo. (Foto: @Sunshine_Tour/Twitter)

Higgo, wat in 2020 die Portugese Ope gewen het, was ook reeds twee keer in die Sonskynreeks baas… en hy is nou eers mondig!

Higgo, wat die bal baie ver slaan, het kalm gebly in die vierde ronde en op 255 houe geëindig, 25 houe onder die baansyfer. Hy het tellings van 65, 64, 63 en 63 op sy telkaart ingevul.

Die Duitser Maxmillan Kiefer (258) was tweede, gevolg deur die Deen Jeff Winther (259). Justin Harding (265), Dean Burmester (268) en Zander Lombard (269) het ook hul staal gewys.

En asof dit nie genoeg is nie, slaan Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel as die voorlopers af in die Zurich Classic-spantoernooi wat in New Orleans beslis word. Hulle is op 197 een hou voor Tony Finau en Cameron Champ van die VSA en die Aussies Marc Leishman en Cameron Smith in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.