Tiger dalk te sien in Hero-toernooi

Tiger Woods. (Foto: Paul Faith/AFP)

Die deur is op ʼn skrefie oop vir Tiger Woods se terugkeer na die gholfbaan in sy eie PGA-toernooi eersdaags in die Bahama-eilandgroep.

Die 47-jarige Amerikaner het vandeesweek die name van die deelnemers aan die Hero-uitdaagtoernooi bekend gemaak, met een plek in die uitsoekveld van 20 spelers wat oopgelaat is.

Die Hero-toernooi word van 30 November tot 3 Desember by die eksklusiewe Albany-vakansieoord in die Bahama-eilandgroep beslis en Woods is die gasheer van die toernooi.

Woods en die Suid-Afrikaner Ernie Els is saam met die sanger Justin Timberlake en die omstrede Britse sakeman Joe Lewis die eienaars van die Albany-oord.

Lewis is onlangs deur die Amerikaanse FBI in hegtenis geneem en klagte van binnehandel staar hom in die gesig.

Die veld van 19 spelers wat bekend gemaak is, sluit 11 Amerikaanse Ryderbeker-spelers in, asook drie van Europa se spelers wat vroeër vandeesmaand triomfantelik was in die tweejaarlikse internasionale spantoernooi wat in Italië beslis is.

Altesame agt van die genooide deelnemers tel onder die wêreld se top 10 met 18 spelers onder die top 25.

Hoewel Woods en sy mede-organiseerders niks wou sê oor die een plek in die Hero-veld wat nog nie gevul is nie, het ingeligtes bevestig dat dit oopgehou word vir die vyftienmalige majorkampioen se moontlike deelname.

Woods het in April vanjaar laas gespeel toe hy in die Amerikaanse Meesterskampioenskap op Augusta in aksie was.

Hy het hom egter tydens die derde ronde aan die toernooi onttrek en daarna ʼn enkeloperasie ondergaan.

Woods het onlangs ʼn paar putjies op een van sy mini-gholfbane op Pebble Beach in Kalifornië gespeel, terwyl hy ook in New York klinieke vir kinders aangebied en op die oefenbof sy talente uitgestal het.

Die gewese no. 1-speler in die wêreld het verlede maand skynbaar ook sy fiksheid getoets toe hy sy seun, Charlie, se sak tydens ʼn junior toernooi gedra het.

Woods jr. het die betrokke toernooi in Florida gewen en agterna gesê dit was ʼn onvergeetlike ervaring om met sy pa aan sy sy te speel.

Die twee Woods-manne is geoormerk om van 14 tot 17 Desember by die Ritz-Carlton-klub in Orlando in die jaarlikse PnC-toernooi te speel.

Dié glansryke toernooi is vir majorkampioene en familielede en lok die spel se grootste sterre van die verlede tesame met kampioene van die heel nuwe generasie.

ʼn Besluit oor Woods se verskyning in die Bahama-eilandgroep sal eers die week voor die toernooi geneem word, met die spel se grootste aantrekkingskrag wat soveel tyd moontlik gegun word om sy fiksheid te herwin.

Die Hero-veld is (wêreldranglysposisies in hakies):

Scottie Scheffler (1), Viktor Hovland (2), Patrick Cantlay (5), Xander Schauffele (6), Matt Fitzpatrick (7), Max Homa (8), Brian Harman (9), Wyndham Clark (10), Jordan Spieth (13), Cameron Young (15), Keegan Bradley (16), Sam Burns (19), Collin Morikawa (20), Sepp Straka (21), Tony Finau (22), Jason Day (23), Ricky Fowler (24), Justin Thomas (25) en Will Zalatoris (29).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.