Tiger swaai steeds die septer

Tiger Woods (Foto: Paul Faith / AFP)

Al is sy verskynings op die gholfbaan deesdae beperk tot ’n handvol toernooie, swaai Tiger Woods steeds die septer.

Die vyftienmalige major-kampioen is vandeesweek tot die direksie van die PGA-reeks se beleid- en adviesraad verkies.

Dit volg nadat Woods en ’n groep van veertig spelers die uitvoerende hoof van die PGA-reeks, Jay Monahan, met ’n reeks eise gekonfronteer het.

Woods en die ander spelers is bitter omgekrap oor die sogenaamde vredesooreenkoms wat Monahan en twee ander direksielede van die PGA-reeks met die omstrede LIV-reeks gesluit het.

Daar is ooreengekom dat albei reekse hul regsgedinge teen die ander een terugtrek en vorentoe gholf saam met die Europese DP World-reeks onder een sambreel sal bestuur.

Die moontlike terugkeer van die LIV-rebelle na die PGA-reeks is glad nie goed ontvang deur die spelers wat hul rûe op die PGA-reeks gekeer en vir groot geld na die Saoedi-Arabies gefinansierde LIV-reeks oorgeloop het nie.

Foto: Paul Ellis/AFP)

Woods het sedert die skokaankondiging twee maande gelede dat die twee reekse vorentoe gaan saamwerk, geen woord oor die verwikkelinge gerep nie.

Maar Dinsdag het die gholf‑fenomeen die eerste keer van hom laat hoor.

“Die spelers bedank kommissaris Monahan dat hy gehoor gegee het aan die spelers se eise.

“Ons sien uit daarna om by die tafel te wees waar die regte besluite geneem sal word om die toekoms van die spel te verseker.

“Ek is geëerd om die spelers te verteenwoordig in ’n kritieke tyd waarin alles gedoen moet word om alle rolspelers en ondersteuners van die spel, asook die spelers se belange, te beskerm.

“Kommissaris Monahan het my steun vir die pad vorentoe,” het Woods in ’n verklaring gesê nadat hy deel van die PGA-direksie geword het.

Dit is duidelik dat enige vrede en samewerking tussen die PGA- en LIV-reeks nog bitter ver in die toekoms lê.

Woods het miljarde rand van die hand gewys om sy rug op die PGA-reeks te draai en het die spelers wat dit gedoen het as verraaiers gebrandmerk.

Met Woods nou op die direksie waar die spelers die meerderheid stemme geniet, kan dit aanvaar word dat geen LIV-rebel ’n vrypas sal hê om weer op die PGA-reeks te speel nie.

En aan die ander kant het LIV se hoogsbetaalde speler, Phil Mickelson, net meer as ’n week gelede gesê geen LIV-lid stel belang om na die PGA-reeks terug te keer nie en dat hulle nie ’n samesmelting wil hê nie.

Die gevoel wat ’n mens tans kry, is dat daar dadels van ’n samesmelting gaan kom en dat albei reekse vorentoe afsonderlik hul ding gaan doen.

Wat wel sal gebeur, is dat die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds (PIF) ’n groot borg van die PGA-reeks en verskeie toernooie sal word.

En dis presies wat die heersers van Saoedi-Arabië wil hê: ’n Plek op wêreldgholf se grootste verhoog waar hulle hul beeld kan poets met ’n onuitputbare hoeveelheid geld waarvoor niemand kan nee sê nie.

Bykomende bron: Golf Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.