WCG-gholftoernooi: Koepka kap dit uit

Brooks Koepka. (Foto: AP Photo/Jeff Chiu)

Hou dinge so eenvoudig moontlik op die gholfbaan, want min dinge kan so erg skeefloop as wanneer ʼn speler se kop eers begin uitrafel.

Dit maak nie saak of jy van kampioenskapsmateriaal gemaak is of met ʼn voorgee van sê nou maar 18 houe speel nie.

Dis dan wanneer jy begin krap waar dit nie jeuk nie.

Die Amerikaner Brooks Koepka het slegs twee jaar gelede die gholfwêreld aan sy voete gehad.

Ná twee opeenvolgende oorwinnings in die Amerikaanse Ope (2017 en 2018) en nog twee in die Amerikaanse PGA (2018 en 2019) was die 30-jarige Koepka die goue seun van gholf, maar toe verdof sy glans.

Nadat hy in die onlangse Farmers Insurance-toernooi ʼn derde agtereenvolgende keer nie die afsnypunt kon haal nie, het hy as terapie twee stelle ysters fisiek vernietig.

Dit het wel die gewenste uitwerking gehad, want hy was in die daaropvolgende Phoenix-ope weer aan die wenkant en nou is hy op koers om nog ʼn oorwinning te behaal.

Vandeesweek het hy besluit om dinge boonop eenvoudig te hou. Hy het eers Dinsdag na Brandenton in Florida gereis en net nege putjies gespeel voordat die WCG-kampioenskapstoernooi begin het.

Ná sy rondtes van 67 en 66 is hy op 133 een hou voor sy twee landgenote Billy Horschel en Collin Morikawa en die Aussie Cameron Smith.

Hulle word op 135 houe gevolg deur die Engelsman Matthew Fitzpatrick en nog twee Amerikaners, Webb Simpson en Tony Finau.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen (137) is saam tiende ná sy twee rondtes van 69 en 68.

Oosthuizen het vyf voëltjies in die tweede ronde behaal, maar op die 14de putjie (syfer 4) ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Van die ander Suid-Afrikaners was Christiaan Bezuidenhout (143), Brandon Stone (145), Erik van Rooyen (146), Daniel van Tonder (149) en JC Ritchie (151) maar flouerig teen die wêreld se bestes.

* Ook in Florida het die 50-jarige Sweedse legende Annika Sörenstam die afsnypunt ná die tweede ronde van die LPGA-toernooi gehaal nadat sy 71 houe (een hou onder syfer) in die tweede ronde aangeteken het.

Sörenstam, wat in 2008 uitgetree het om ʼn gesin te begin, het haar seun, William, beloof dat hulle Saterdag strandvlugbal sou speel, maar nou sal hy saam met sy ma gholf moet kyk.

Die Nieu-Seelander Lydia Ko, wat net soos Koepka ook in 2018 byna onstuitbaar was, is een hou voor Nellie Korda nadat die Kiwi rondtes van 69 en 69 houe aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.