Wêreldputjiespeltoernooi: Slae vir Scheffler en McIlroy

Rory McIlroy. (Foto: AP Photo/Denis Poroy)

In putjiespelgholf word daar gesê die enigste voorspelbaarheid is juis die onvoorspelbaarheid daarvan.

Dit het Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Texas by die WCG Technologies se Wêreldputjiespeltoernooi geblyk toe die Amerikaner Sam Burns, wat 13de gekeur was, sy landgenoot Cameron Young (15de gekeur) met 6 en 5 in die eindstryd geklop het.

Vooraf is daar voorspel dat Scottie Scheffler (die wêreld se voorste speler op die ranglys) en die Noord-Ier Rory McIlroy (derde op die ranglys) sake in die eindstryd sou uitspook.

Maar die 26-jarige Burns het Scheffler in die een halfeindstryd op die derde uitspeelputjie geklop nadat Scheffler ʼn korterige sethou op die tweede uitspeelputjie verbrou het wat hom tot die eindstryd sou laat deurdring het.

McIlroy, wat die toernooi in 2015 gewen het, het in die ander halfeindstryd teen Young op die laaste twee putjies ingeplof.

McIlroy was stewig in die saal en was met twee voor met slegs drie putjies oor.

Maar hy het dramaties ineengestort, wat Young in staat gestel het om die valbylstryd op die eerste putjie met ʼn voëltjie te beklink.

McIIroy het Scheffler in die uitspeelstryd om die derde plek met 2 en 1 geklop.

* In die plaaslike Sonskynreeks het die Duitser Nick Bachem die Jonsson Workwear-toernooi met vier houe  gewen wat by Steyn City tussen Lanseria en Fourways beslis is.

Bachem het die vierde en laaste rondte in 64 houe voltooi en het op 264 houe (-24) geëindig.

Sy toernooitelling was vier houe beter as dié van die twee Suid-Afrikaners Zander Lombard en Hennie du Plessis (albei 268, -20), met nog ʼn Suid-Afrikaner, Ockie Strydom, en Skot Ewen Ferguson saam vierde op 269 (-19).

Kristian Krogh Johannessen van Noorweë, Gavin Green van Maleisië en Joakim Lagergren van Swede was saam sesde op 270 houe (-18).

Dit was die 23-jarige Bachem se eerste oorwinning in die Europese reeks (DP World Tour) nadat hy slegs in sy tiende toernooi in die reeks afgeslaan het.

Hy was voor die toernooi 464ste op die wêreldranglys.

*  In die Amerikaanse Drive On-kampioenskap vir vroue (Amerikaanse LPGA-reeks) wat in Arizona gespeel is, het die Franse speler Celine Boutier en Georgia Hall van Engeland saam eerste op 268 houe (-20) geëindig.

Boutier het die uitspeelstryd op die eerste putjie beklink.

Ayaka Furue van Japan was derde op 269 (-19) met Na-Rin An van Korea vierde op 270 (-18).

Suid-Afrika se Paula Reto het op 283 (-5) geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.