Wind stuit spelers in SDC-kampioenskap

David Ravetto tydens die SDC-kampioenskappe.

Die Fransman David Ravetto en Noorweë se Kristian Krogh Johannessen het Donderdag die winderige toestande op die St. Francis Links-baan die beste bemeester om die eerste ronde van die Europese reeks se SDC-kampioenskap as die voorlopers af te sluit.

Ravetto en Johannessen is twee van slegs dertig uit altesame 156 spelers wat die baansyfer van 72 kon klop.

Albei het tellings van 67 op hul telkaarte ingevul.

“Dit was pret. Dit is regtig ʼn mooi baan en die wind moet ’n bietjie waai om die baan se volle moeilikheidsgraad te openbaar,” het Ravetto ná sy dag se spel gesê.

Volgens Johannessen was geduld die wagwoord en hy is baie tevrede met hoe hy sake kon beredder wanneer hy in die moeilikheid was.

“Die weersomstandighede gaan beslis ’n rol in die uitslag speel. Dit is belangrik om jou balletjie in spel te hou en nie kop te verloor as jy ’n fout maak nie,” het die Noorweegse geldspeler oor sy vertoning gesê.

Die twee voorlopers word gejaag deur die Skot Connor Syme (68), met Suid-Afrika se Sean Cronjé, die Duitser Nick Bachem, die Fransman Julien Brum, Martin Simonsen van Denemarke en Joost Luiten van Nederland op 69 die volgende spelers boaan die voorlopersbord.

Die 37-jarige Luiten is ’n gerekende sesmalige wenner op die Europese reeks en blyk die vroeë gevaarman te wees vir enigiemand wat drome van sukses koester.

Cronjé (22) is van Durbanville en ’n groentjie wat hom verlede jaar by die beroepsgeledere aangesluit het. Hy sal in sy noppies wees met sy wegspring, maar ook weet dat daar nog ’n lang en harde pad voorlê.

Van die ander bekende SA spelers wat onder syfer is, is Justin Harding, Zander Lombard en Darren Fichardt, wat al drie met 71’s afgeskop het.

Drie groot kanonne, Thriston Lawrence, George Coetzee en Oliver Bekker, is ook op 72 nog in die prentjie om die eerste prys van meer as R4,7 miljoen.

Die SDC-kampioenskap is die eerste van agtereenvolgende toernooie in die Europese reeks wat op plaaslike bodem beslis word.

Aanstaande week reis die spelers na Gauteng vir die Jonsson Workwear Ope, wat by Steyn City beslis word en soos die SDC-kampioenskap met ’n pryspot van meer as R27 miljoen spog.

Garcia loop voor in Singapoer

In Singapoer het die Suid-Afrikaner Nicole Garcia die pas aangegee ná Donderdag se eerste ronde van die Aramco-toernooi op Laguna National.

Garcia het ’n puik telling van 67 (-5) op haar telkaart ingevul, maar is teleurgesteld met die wyse waarop sy klaargemaak het.

Sy was met twee putjies oor op -7 stewig in beheer van sake, maar agtereenvolgende brouhoue op die agtste en negende putjies het haar voorsprong tot ’n enkele hou laat krimp.

“Dit was ’n teleurstellende aan die einde van ’n dag wat goed begin het, maar in die geheel is ek tevrede en baie gelukkig,” het Garcia gesê nadat sy by haar laaste putjie drie sethoue nodig gehad het om die balletjie in die blikkie te rol.

Garcia word gejaag deur ’n groep van vyf spelers, onder wie die Sweed Linn Grant, wat almal tellings van 68 (-4) aangeteken het.

Die wêreld se voorste speler, die Nieu-Seelander Lydia Ko, is ook in Singapoer in aksie.

Sy moes met ’n telling van 72 tevrede wees en sal oor die laaste twee rondes moet uithaal sou sy Saterdag nog ’n titel agter haar naam wil skryf.

Die Suid-Afrikaners Kaleigh Telfer (70) en Casandra Alexander (74) het gemengde welslae behaal.

SA ook verteenwoordig in Valspar-kampioenskap

In die Valspar-kampioenskap in die Amerikaanse PGA-reeks is Suid-Afrika se MJ Daffue (69) drie houe agter die gesamentlike voorlopers Ryan Brehm en Stephan Jager.

Erik van Rooyen (70) en Garrick Higgo (71) is ook binne trefafstand ná die eerste ronde.

Brehm het in sy ronde van 66 ’n kolhou by die sewentiende putjie aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.