Woods groet; Aussie trek voor

Tiger Woods het vir die laaste keer op St. Andrews in Skotland na die 18de setperk gestap. (Foto: Paul Ellis/AFP)

Die gordyn is laat Vrydagmiddag op St. Andrews in Skotland op Tiger Woods en ses Suid-Afrikaners toegetrek ná die tweede ronde van die Britse Ope-gholftoernooi.

Woods, met sy oë vol trane, het onder dawerende toejuiging straks vir die heel laaste keer op St. Andrews na die 18de setperk gestap.

Hy was ná twee rondes nege houe oor die baansyfer (153), maar wêreldgholf het steeds erkenning gegee aan straks die beste speler wat jare lank die landskap verander het, maar wat ná ʼn rits beserings, operasies en ʼn ernstige motorongeluk nie meer die pas kan volhou nie.

Draai die horlosie terug na 1995 toe hy as 19-jarige amateur die eerste keer op St. Andrews gespeel (toevallig saam met Ernie Els) en saam 68ste geëindig het.

Vyf jaar later, in 2000, het hy die Ope op St. Andrews die eerste keer gewen, met ʼn asemrowende agt houe.

Toe Woods Vrydag op pad klubhuis toe was, het hy en Rory McIlroy (op pad na die 1ste putjie waar hy afgeslaan het) verby mekaar gestap. McIIroy het sy pet uit erkenning effe gelig en dit was asof Tiger die aflosstokkie aan hom oorhandig het.

Dit was een van die ikoniese oomblikke van sport, die oue en die nuwe, van tradisie, passie en durf, een wat geld nooit kan koop nie.

Die Australiër Cameron Smith het intussen sy kans aangegryp en is ná tellings van 67 en 64 houe met twee houe (131, -13) voor die jong Amerikaner Cameron Young, wat in sy eerste Britse Ope speel (133, -11).

Hulle word gevolg deur McIlroy en Viktor Hovland van Noorweë op 134, met Dustin Johnson (Amerika) op 135 en Scottie Scheffler (Amerika), die wêreld se voorste speler op die gholfranglys, saam met die Engelsman Tyrrell Hatton op 136 (-8).

Thriston Lawrence van Suid-Afrika (140, -4) en Garrick Higgo en Dylan Frittelli (albei 141, -3) het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar met Christiaan Bezuidenhout en Dean Burmester wat gelyk aan baansyfer (144) geëindig het.

Maar die valbyl het op Louis Oosthuizen, Zander Lombard, Justin Harding en Ernie Els (almal op 145, +1), Shaun Norris (+3) en die jong amateur Aldrich Potgieter (+6) geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.