Haastige Max weer onder Laureus-benoemdes

Max Verstappen vier sy oorwinning in Abu Dhabi. Foto: Twitter.

Max Verstappen is verlede jaar as Laureus se sportman van die jaar aangewys. Nou is hy weer in die binnebaan om met die toekenning weg te stap.

Die jong Nederlandse renjaer het in 2022 amok gemaak agter die stuur van sy Red Bull-renmotor en hy het 15 wedrenne gewen om vir ʼn tweede keer op ʼn streep as die F1-Wêreldkampioen gekroon te word.

Hy sal nou sake met sportsterre soos Kylian Mbappé, Lionel Messi, Mondo Duplantis, Rafael Nadal en Stephen Curry om die Laureus-toekenning uitspook.

Veral Mbappé en Messi kan gedugte teenstanders wees ná hul heldedade in die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar.

Lionel Messi. Foto: Twitter.

Terselfdertyd het die tennislegende Nadal ʼn paar Grand Slam-titels ingeoes, terwyl Duplantis altyd die paalspring-lat ʼn bietjie hoër skuif.

Curry is as die beste NBA-speler aangewys nadat hy saam met die Golden State Warriors amok gemaak het.

Tog is Verstappen gewoond daaraan om te wen – die geruite vlag is immers nege keer in die laaste 11 wedrenne van die seisoen vir hom geswaai en hy kan weer eens een van die gunstelinge wees om die gesogte toekenning in ontvangs te neem.

Red Bull is ook in die span van die jaar-kategorie benoem nadat hulle verlede jaar met die vervaardigerstitel weggejaag het.

  • Benoemdes:

Sportman van die jaar: Kylian Mbappé (sokker – Frankryk), Lionel Messi (sokker – Argentinië), Max Verstappen (F1 – Nederland), Mondo Duplantis (atletiek – Swede), Rafael Nadal (tennis – Spanje) en Stephen Curry (basketbal – VSA).

Sportvrou van die jaar: Alexia Putellas (sokker – Spanje), Iga Swiatek (tennis – Pole), Katie Ledecky (swem – VSA), Mikaela Shiffrin (ski – VSA), Shelly-Ann Fraser-Pryce (atletiek – Jamaika) en Sydney McLaughlin-Levrone (atletiek – VSA).

Span van die jaar: Argentinië (sokker), Engeland (vrouesokker), Frankryk (rugby), Golden State Warriors (basketbal), Real Madrid (sokker) en Red Bull (F1).

Deurbraakster van die jaar: Carlos Alcaraz (tennis – Spanje), Elena Rybakina (tennis – Kasakstan), Marokko (sokkerspan), Nathan Chen (ysskaats – VSA), Scottie Scheffler (gholf – VSA) en Tobi Amusan (atletiek – Nigerië).

Sport vir ʼn goeie doel-toekenning: Boxgirls (Kenia), High Five (Duitsland), Made for More (Suid-Afrika), Slum Soccer (Indië) en Teamup (wêreldwyd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Hoop vir die beste vir Max,gaan trap nou weer daai twee groot bek engelse se tjank af !!

Koos 100 ·

Ek lees gister met skok, hoeveel geld moet Max betaal vir sy 2023 super lisensie, en Reb Bull vir hulle deelname aan die F1 vir 2023. Hou vas julle stoele! Max moet bykans 1 miljoen euro en Red Bull amper 7 miljoen. Dan nog vir Perez 700000 euro. Saam amper 9 miljoen euro of sowat R180 000 000.00. Dit net om deel te neem!!!!

Leon ·

SA skitter in hul afwesigheid. Teken dat benoemdes op meriete gekies is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.