Argentinië is sokkerkonings!

Argentinië is die wenners van die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Foto: Twitter.

Vandag brand die vreugdevure hoog in Argentinië – van Buenos Aires en Mendoza tot in Cordoba en Lionel Messi se tuisstad van Rosario.

Want die Argentyne is die konings van die sokkerwêreld nadat hulle ʼn briljante eindstryd teen Frankryk in Doha met strafdoele gewen het.

Die Suid-Amerikaners het ongetwyfeld die septer in die eerste helfte geswaai. Messi was in die kol met sy strafdoelpoging in die 21ste minuut van die wedstryd, terwyl Ángel di Maria dinge ʼn rukkie later 2–0 gemaak het.

Die Fransmanne was futloos en met tye verbeeldingloos, maar Kylian Mbappé het gesorg dat die liggies op die Eiffeltoring weer helder begin brand het.

Die jong speler, wat Dinsdag sy 24ste verjaardag vier, het met sy twee doele in die 80ste én 81ste minuut die spreekwoordelike Franse kat in die Argentyne se duiwehok losgelaat.

Skielik was die telling 2-elk en pres. Emmanuel Macron het van vreugde in sy luukse stadionlosie begin rondspring.

Die aksie het ook in bykomende tyd oorgespoel. Messi het gedink hy het die wedstryd vir sy span in die 108ste minuut beklink, maar Mbappé het met sy derde doel van die wedstryd dinge weer eens gelykop gemaak.

Lionel Messi neem die trofee in ontvangs. Foto: Mustafa Yalcin/Anadolu Agency via AFP.

Strafdoele was die twee spanne se voorland en nadat Mbappé en Messi (wie anders?) die bal aan die rol gesit het, was dit die Argentynse spelers wat die druk die beste hanteer het om die strafdoelpogings met 4–2 te wen.

Dit is nou die derde keer dat Argentinië met die louere huiswaarts keer – die vorige keer was in 1986 toe Diego Maradona éérs met sy berugte “Hand of God”-doel vir Engeland uitgeskakel het en tóé vir Wes-Duitsland in die eindstryd oordonder het.

Maar hierdie sege is ongetwyfeld Messi se Wêreldbeker-triomf.

Die 35-jarige speler het al soveel sukses saam met sy klubspanne gesmaak, nou pronk hy saam met sy spanmaats op die internasionale verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.