1,2,3… Aussies wen wéér op ʼn drafstap

David Warner en Marnus Labuschagne het honderdtalle teen die Proteas aangeteken. (Foto: Twitter/ICC)

Australië het die tweede eendagwedstryd teen Suid-Afrika in Bloemfontein met 123 lopies gewen.

Marnus Labuschagne-hulle het eers die rook uit die Protea-boulers geslaan, waarna Adam Zampa die wind uit die seile van die tuisspan se wilgerlatswaaiers gehaal het.

Quinton de Kock (45), Temba Bavuma (46), Heinrich Klaasen (49) en David Miller (49) het moedig in derde rat voortgekolf, maar hulle was terug in die kleedkamer voordat hulle na ʼn hoër rat kon oorskakel.

“Ons moet beter speel. Australië was met die eerste aflewering van die wedstryd al op hul beste gewees. Ingesteldheid is beslis iets waarna ons sal moet kyk,” het Bavuma na afloop van die kragmeting gesê.

Volgens die Protea-kaptein was sy span nie opgewasse teen Australië se aggressiewe benadering nie.

“Die grootste uitdaging is nou om die nederlae agter ons te sit en op die oorblywende wedstryde te konsentreer. Eerlike gesprekke is nodig en ons moet onsself regruk om mededingende krieket teen Australië te speel.”

Mitchell Marsh was natuurlik in sy noppies met sy span se vertoning.

“Die kolwers was ongelooflik en dit is ʼn baie goeie dag vir Australië. Ons plaaslike krieketstelsel en die afrigters verdien ongetwyfeld ʼn klop op die skouer vir die wyse waarop hulle almal gereed kry vir die uitdagings van internasionale krieket,” het die Aussie-kaptein gesê.

Labuschagne, wat in Klerksdorp gebore is, is as die speler van die wedstryd vir sy spogbeurt van 124 lopies aangewys.

“Ek dink ons kon eintlik meer lopies aangeteken het. As ons ʼn bietjie meer aanvallend was, kon ons dalk 430 lopies op die telbord gehad het.”

Die derde wedstryd in die reeks word Dinsdag in Potchefstroom beslis. Die aksie begin om 13:00.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 392/8 in 50 boulbeurte: Marnus Labuschagne 124, David Warner 106 en Tabraiz Shamsi 4/61.

Suid-Afrika 269/10 in 41,5 boulbeurte: Heinrich Klaasen 49, David Miller 49 en Adam Zampa 4/48.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Hi shame nog ‘n vernedering vir die blommetjies. Politiek en kwota kapteinskap het darem SA krieket vernietig. Dalk moet van die dames spelers die mans kom help. Hulle speel fantasties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.