157 lopies tussen Proteas en WB-glorie

Shabnim Ismail het twee belangrike paaltjies geneem. Foto: Marco Longari/AFP.

Die Proteas moet teen net minder as agt lopies per boulbeurt kolf as hulle met die T20-Wêreldbekerlouere teen Australië op Nuweland wil wegstap.

Beth Mooney het 74 vinnige lopies aangeteken en haar flinke vennootskap met Ashleigh Gardner het gedreig om die Suid-Afrikaners onder kwaai druk te plaas, maar Suné Luus het koelkop gebly om ʼn belangrike vangskoot vanaf Chloe Tryon se boulwerk te neem.

Daarna het die res van die Australiese kolwers gesukkel om momentum op te bou.

Meg Lanning het die eerste aflewering wat sy trotseer het na die grens gejaag, maar Marizanne Kapp het haar ʼn kort rukkie later terug na die kleedkamer gestuur.

Die tuisspan se beste bouler was egter Shabnim Ismail wat weer eens met haar vaart en veggees beïndruk het. Sy het die belangrike paaltjies van Elysse Perry en Georgia Wareham geneem om met ʼn boulontleding van 2/26 te spog.

Luus se spelers is die eerste Suid-Afrikaanse krieketspan wat daarin kon slaag om vir die eindstryd van ʼn Wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 156/6 in 20 boulbeurte:  Beth Mooney 74*, Ashleigh Gardner 29 en Shabnim Ismail 2/26.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Laura Wolvaardt, Tazmin Brits, Marizanne Kapp, Chloe Tryon, Nadine de Klerk, Suné Luus (kaptein), Anneke Bosch, Sinalo Jafta, Shabnim Ismail, Ayabonga Khaka en Nonkululeko Mlaba.

Australië: Alyssa Healy, Beth Mooney, Ashleigh Gardner, Meg Lanning (kaptein), Grace Harris, Elysse Perry, Tahlia McGrath, Georgia Wareham, Jess Jonassen, Megan Schutt en Darcie Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.