AB se Protea vlam brand dalk weer

AB de Villiers se aggressiewe en innoverende spel sou baie vir die Proteas beteken het. Foto: Cricinfo.

Suid-Afrika se mees verwoestende kolwer in die moderne era en dalk selfs in die land se krieketgeskiedenis (ekskuus, Barry Richards), AB de Villiers, is bereid om vir die Proteas in die komende T20-Wêreldbeker in Australië te speel.

“Daar gaan weliswaar eers baie water onderdeur die brug moet loop voordat dit gebeur, maar ek sal graag weer in die T20-Wêreldbeker wil speel,” het De Villiers aan die Australiese media gesê.

Volgens De Villiers was hy in gesprek met Mark Boucher (Protea-afrigter), Graeme Smith (Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket) en Faf du Plessis (kaptein) en almal is opgewonde oor die moontlikheid dat hy weer sy terugkeer in krieket se kitsformaat kan maak.

AB de Villiers het verlede jaar ’n reuseses met net een hand vir die Royal Challengers Bangalore geslaan. Foto: Cricinfo.

“Dit is nie definitief nie en ek wil beslis nie myself en ander mense teleurstel nie. Juis daarom wil ek ’n lae profiel handhaaf en my beste gee in elke wedstryd; ons sal dan sien wat teen die einde van die jaar gebeur.”

Wanneer die eerste aflewering van die T20-Wêreldbeker in Oktober afgestuur word, sal De Villiers 36 jaar oud wees.

Indien daar diegene is wat mor dat hy al verby sy rakleeftyd is, hoef hulle net na gister se Big Bash League-wedstryd tussen die Brisbane Heat en die Adelaide Strikers gekyk het.

De Villiers het die eerste aflewering wat die 21-jarige Rashid Khan (een van T20-krieket se gevaarlikste boulers) na hom afgestuur het terstond na die grens gejaag.

Hy het in ’n vroeë onderhoud gesê dat hy tans van die beste krieket van sy loopbaan speel: In die afgelope Mzansi Superliga het hy 325 lopies teen ’n treftempo van meer as 150 geslaan, terwyl hy ook met ’n hele paar uithalervertonings vir die Royal Challengers Bangalore en Middlesex vorendag gekom het.

Faf du Plessis het ook al in onderhoude gesê dat hy gretig is dat De Villiers ’n vinnige terugkeer maak. Maar ná verlede jaar se fiasko met die Wêreldbeker-toernooi in Engeland, sal daar inderdaad eers baie water onderdeur die brug moet loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

bokka ·

Vergeet van hom as hy net in wêreldbekertoernooie wil speel. As hy bereid is om deurentyd vir SA se T20-span te speel, is hy welkom.

Ricardo ·

Ek stem. Hy “perform” in elk geval net as die “pay” hoog is. Direkte verwantskap tussen sy spelpeil en sy vergoeding

Joe ·

Eks n AB fan, maar laat hom gaan, hou op om hom terug te probeer kry. Ek dink dis belaglik, hoe moet ons n span bou as julle afgetredes heeltyd soek? Hoekom is Faf nog kaptein, ENIGE kaptein sou gesack gewees het na die CWC en sy “performances”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.