Afghanistan se draaiers betower Engelsmanne

Afghanistan het Engeland met 69 lopies in ’n Wêreldbeker-wedstryd geklop. (Foto: Money Sharma/AFP)

Engeland, die verdedigende wêreldkampioen, kry ongetwyfeld die wind van voor in Indië.

Jos Buttler se span het pas met 69 lopies teen Afghanistan in Delhi verloor. Dit is die Engelsmanne se tweede nederlaag in drie wedstryde nadat hulle ook in hul openingskragmeting teen Nieu-Seeland die onderspit gedelf het.

Vandag het Afghanistan se draaiers die bleekbeen-kolwers behoorlik betower.

Mujeeb Ur Rahman het onder meer van Joe Root en Harry Brook ontslae geraak, terwyl talisman-speler Rashid Khan ook drie paaltjies laat kantel het.

Afghanistan se draaiers – met Mohammad Nabi inkluis – het uiteindelik agt Engelse kolwers terug na die kleedkamer gestuur om ʼn geskiedkundige Wêreldbeker-oorwinning te vier.

Vroeër het Rahmanullah Gurbaz en Ikram Alikhil vinnige lopies aangeteken om te sorg dat hul span met 284 lopies op die telbord kon spog.

“Dit is ʼn baie trotse oomblik om in ʼn Wêreldbeker-toernooi die verdedigende kampioenspan te klop. Dit is ʼn wonderlike prestasie vir die hele span en ons het baie hard agter die skerms hiervoor gewerk,” het Rahman gesê toe hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Die 22-jarige wegbreekbouler het die boulwerk saam met Fazalhaq Farooqi geopen en hy erken dat dit nie die maklikste taak is nie.

“Dit is weliswaar ʼn uitdaging om in die kragspeltydperk te boul, maar dit is iets wat ek wou doen omdat dit dalk ʼn invloed op die spel sou hê. Ek het probeer om so reguit moontlik na die paaltjies te boul en ek was gereed vir enige uitdaging.”

Engeland is tans vyfde op die Wêreldbeker-punteleer; net ʼn kortkop bó Afghanistan in die sesde plek.

  • Opsomming van die telkaart:

Afghanistan 284/10 in 49,5 boulbeurte: Rahmanullah Gurbaz 80, Ikram Alikhil 58 en Adil Rashid 3/42

Engeland 215/10 in 40,3 boulbeurte: Harry Brook 66, Rashid Khan 3/37 en Mujeeb Ur Rahman 3/51.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.