Anrich en Faf skitter in IPL-kragmetings

Anrich Nortjé het vir Umesh Yadav vanaf sy eie boulwerk uitgevang. (Foto: Twitter/IPL)

Die Delhi Capitals het uiteindelik ná ses probeerslae ʼn wedstryd in die Indiese Premierliga (IPL) gewen nadat hulle die Kolkata Knight Riders met vier paaltjies geklop het.

Anrich Nortjé het ʼn deurslaggewende rol gespeel om die Knight Riders vir 127 lopies in 20 boulbeurte uit te knikker.

Die Protea-snelbouler het van Venkatesh Iyer en Umesh Yadav ontslae geraak om vir ʼn goeie boulontleding van 2/20 te sorg.

David Warner en Manish Pandey het daarna toegesien dat die Capitals die wedstryd in die laaste boulbeurt van hul kolfwerkpoging beklink het.

Dan lyk dit of die einde van Faf du Plessis se vuurwerkvertoning nog nie in sig is nie.

Die voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein het 84 vinnige lopies vir die Royal Challengers Bangalore in hul kragmeting teen die Punjab Kings gemoker.

Du Plessis het tien grenshoue in sy warrelwindbeurt geslaan en hy is steeds die voorste lopiemaker in die toernooi.

In ses wedstryde het hy 343 lopies teen ʼn gemiddeld van 68 en ʼn treftempo van 166 vir sy span aangeteken.

Opsomming van telkaarte:

  • Delhi Capitals teen Kolkata Knight Riders

Kolkata Knight Riders 127/10 in 20 boulbeurte: Jason Roy 43, André Russell 38* en Anrich Nortjé 2/20.

Delhi Capitals 128/6 in 19,2 boulbeurte: David Warner 57, Manish Pandey 21 en Varun Chakravarthy 2/19.

Uitslag: Delhi Capitals wen met vier paaltjies.

  • Royal Challengers Bangalore teen Punjab Kings

Royal Challengers Bangalore 174/4 in 20 boulbeurte: Faf du Plessis 84, Virat Kohli 59 en Harpreet Brar 2/31.

Punjab Kings 150/10 in 18,2 boulbeurte: Prabhsimran Singh 46 en Mohammed Siraj 4/21.

Uitslag: Royal Challengers Bangalore wen met 24 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.