Aussies maak dinge baie warm vir Proteas

Pat Cummins het Dean Elgar reeds in die tweede boulbeurt vir ’n nulletjie uitgehaal. Foto: Twitter.

Australië het ongetwyfeld die hef in die hand ná die derde dag se spel van die tweede toets teen die Proteas op die ikoniese Melbourne-krieketveld (MCG).

Die tuisspan se spelers het hul eerste beurt op 575/8 verklaar, terwyl hulle binne ʼn oogwink van Dean Elgar ontslae geraak het. Toe reën die dag se spel kortgeknip het, het die Suid-Afrikaners met hul telling op 15/1 gewankel – ʼn reuseagterstand van 371 lopies.

Tog het die dag glad nie sleg vir Elgar se troepe begin nie.

ʼn Vurige Anrich Nortjé het vanaf agtereenvolgende aflwerings van Travis Head en David Warner ontslae geraak, terwyl Kagiso Rabada ʼn kort rukkie later ook vir Pat Cummins terug na die kleedkamer gestuur het.

ʼn Oornagtelling van 386/3 het skielik 400/6 geword en plaaslike krieketondersteuners het waarskynlik gedink dat die Protea-boulaanval weer eens tot die span se redding probeer kom het.

Alex Carey en Cameron Green het egter met ʼn vennootskap van 112 lopies die deur in die Suid-Afrikaners se gesigte toegeslaan.

Carey (111 lopies) het die eerste Australiese paaltjiewagter sedert Brad Haddin in 2013 geword om ʼn toetshonderdtal aan te teken, terwyl Green 51 lopies tot die telling bygedra het; gebreekte vinger en al.

Ondanks Nortjé se heldedade – Warner het gesê dit was die vinnigste boulwerk wat hy nóg in sy toetsloopbaan trotseer het – is die Proteas op koers om die toets en die reeks te verloor.

ʼn Mens kan seker nie veel van die kolwers verwag nie.

Volgens die gesaghebbende Wisden-krieketpublikasie slaan die Protea-kolwers vanjaar hul lopies teen ʼn gemiddeld van 23. Slegs Bangladesj se gemiddeld van 22,49 is swakker.

Terselfdertyd is die Suid-Afrikaners vir minder as 200 lopies in hul laaste sewe kolfbeurte uitgehaal.

ʼn Mens kan seker hoop uit Faf du Plessis en AB de Villiers se verstommende walgooibeurte destyds in Adelaide put, maar hierdie Protea-kolflys boesem hoegenaamd nie dieselfde vertroue in nie.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 189/10 in 68,4 boulbeurte: Marco Jansen 59, Kyle Verreynne 52 en Cameron Green 5/27.

Australië 575/8 verklaar in 145 boulbeurte: David Warner 200, Alex Carey 111 en Anrich Nortjé 3/92.

Suid-Afrika 15/1 in 7 boulbeurte: Pat Cummins 1/0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.