Bavuma moet nou sokkies optrek

Temba Bavuma – reddingsvennootskap (Foto: dnaindia.com)

Die Proteas se krieketkaptein, Temba Bavuma, sal moet uithaal en wys dat hy van die regte stoffasie gemaak is om te presteer wanneer dit tel.

Die Suid-Afrikaanse krieketspan is onder kwaai druk nadat hulle Dinsdag in Delhi deur Indië verneder is in dié twee spanne se derde en beslissende eendag-kragmeting.

Indië was met sewe paaltjies baas nadat hulle die Proteas vir ’n skadelike 99 lopies uitgeboul het.

Suid-Afrika speel aanstaande week in Brisbane in twee opwarmingswedstryde teen Nieu-Seeland en Bangladesj voordat hul aanslag op die T20-Wêreldbeker In Australië op 24 Oktober begin.

Die beleërde Bavuma het die Proteas se laaste twee eendag-wedstryde teen Indië misgeloop weens ʼn virus en daar hang ’n reusevraagteken oor sy spelpeil.

Dis egter tyd dat hy uithaal en wys. Hy sal lopies moet aanteken en die herderlose Proteas vinnig tot ’n eenheid saamsnoer en na sukses lei.

“Temba is ons leier en ek ondersteun hom 100%. Ons fokus is nou op die T20 en hy en die hele span weet wat dit verg om sukses te behaal,” het die Suid-Afrikaanse afrigter, Mark Boucher, ná Dinsdag se nederlaag teen Indië gesê.

Volgens die gewese Protea-kaptein AB de Villiers is Bavuma die regte man om Suid-Afrika terug op die wenpad te kry.

“Temba is die regte man om die span te lei. Ek is oortuig hy sal op die regte tyd en regte plek sy spelpeil herwin,” het De Villiers gesê.

Bavuma kon tot dusver in 2022 net 64 lopies in sewe beurte met die kolf aanteken.

Die land hou asem op dat die Protea-kaptein van êrens af inspirasie kry om Suid-Afrika uit ’n donker gat te trek.

Die Proteas is nie net onder druk wat betref die T20-WB-toernooi nie. Hulle is ook met hul rug teen die muur om vir aanstaande jaar se eendag-Wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer.

Die Suid-Afrikaners het 59 punte ná 16 wedstryde en sal al vyf hul oorblywende wedstryde moet wen indien hulle van ’n plek in die WB-toernooi in Indië verseker wil wees.

Die Proteas se oorblywende kragmetings is ’n reeks van drie teen Engeland aanstaande jaar in Januarie en twee wedstryde teen Nederland einde Maart en begin April.

Suid-Afrika het drie wedstryde teen Australië prysgegee omdat dit dieselfde tyd as die SA20 gespeel sou word. Gevolglik het hulle net 21 wedstryde om te kwalifiseer in vergelyking met 24 van die ander spanne.

Die Proteas het gehoop om 30 punte teen Indië in te samel, maar moes uiteindelik net met 10 tevrede wees vir hul enkele oorwinning in die eerste kragmeting van hul afgelope reeks van drie.

Die huidige ranglys lyk só (aantal wedstryde in hakies):

  1. Indië (18) 120
  2. Engeland (18) 125
  3. Australië (18) 120
  4. Bangladesh (18) 120
  5. Pakistan (18) 120
  6. Nieu-Seeland (15) 110
  7. Afghanistan (12) 100
  8. Wes-Indië (24) 88
  9. Ierland (21) 68
  10. Sri-Lanka (18) 62
  11. Suid-Afrika (16) 59

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Koos 100 ·

Jip net hier by ons. Ons kies mos eerste ‘n kaptein en dan ‘n span. Die kaptein weet dan sy posisie is veilig! Dink maar aan John Smit as rugby kaptein en hakker terwyl ‘n veel beter hakker, Bismark du Plessis by die huis moes sit.

Elizabeth ·

Bismarck het nooit by die huis gesit nie, hy het net soos Malcolm vandag as impact speler opgekom en wondere verrig. John was n fantastiese kaptein wat saam Jake White n wenspan kultuur gebou het. Bavuma sal droom om in John Smith se asem genoem te word.

Hennie Biebouw ·

Lake weer sy berigte by Van der Stel op Stellenbosch gesit en skryf? Die dat hy die onderwerp van sy berig, se naam in die kop verkeerd spel…

Wit Leeu ·

Hy hoort nie in die span nie, en klaar ! Maar hou hom maar as kaptein want dis mos polities korrek ! Patetiese besluite soos gewoonlik in die land !

Theuns ·

Wel, die titel Kaptein is belangriker as spelpeil. Hoekom moet hy verbter as sy plek veilig is.? Geen rede om eens op te daag nie soos mis van laaste wedstryde vir “redes” wys. Boucher moet probeer help

Leon ·

Bavuma sal die fondament le in die WB. Teken een lopie aan en die res van die span kan dan daarop voortbou. Sodoende het hy sy deel gebring en niemand kan kla nie

Casper ·

Ter versagting wil ek die volgende sê
1 De Kock en Malan is veronderstel om ‘n goeie grondslag daar te lë vir die ander kolwers om voort te bou,hulle doen nie.
2 Aiden Msrkram bring nie sy kant nie.
3 Shamsi hoort nie in die span nie.
4 Kom ons wees realisties wie verdien werklik hulle plekke in die span Behalwe Miller en Klaassen.
5 Al die boulers was maar bra flou teen Indië.Hulle het die Indiese kolwers nooit regtig laat skrik met hulle boulwerk nie,so dit is nie net Bavuma se skuld nie.

Fran ·

‘n kaptein moet kan inspireer en lei met sy spel en leierskap. Hy kan nie een daarvan doen nie. Dat hy nie eers gekies is om in die plaaslike reeks te speel nie spreek mos boekdele. Hy is nou eenmaal ‘n regstellende aanstelling so aanvaar dit maar so.

Peter ·

Gaan terug klubkrieket toe en leer speel, maybe kan jy dalk in die ry staan want die ouens tans daar is myle beter as jy, sorry to say

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.