Bestendigheid is die wagwoord vir Proteas

Die Proteas is Sondag vir 116 lopies op die Wanderers uitgehaal. (Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photograpy)

JP Duminy, kolfafrigter van die Proteas se witbalkrieketspanne, meen dat die Suid-Afrikaners vaardigheidsgewys beter sal moet doen.

Die Protea-kolwers het met ʼn doellose vertoning teen Indië in die eerste eendagwedstryd op die Wanderers vorendag gekom toe hulle vir slegs 116 lopies uitgehaal is. ʼn Paar dae vantevore is hulle vir 95 lopies in die laaste T20-kragmeting op die einste veld uitgeskiet.

“Ja, toestande het nou ʼn rol gespeel, maar ons kan dit hoegenaamd nie as ʼn verskoning voorhou nie. Wanneer jy op die groot verhoog speel, moet jy maniere vind om die toestande en die teenstanders te tem,” het Duminy gesê.

Snaaks genoeg het die Protea-kolflys net ʼn paar weke vantevore op alle suiers in die Wêreldbeker-toernooi gevuur.

Suid-Afrika het toe ʼn rits tellings van meer as 350 lopies opgestapel, terwyl hulle ook die rekord vir die meeste sesse in ʼn Wêreldbeker-skouspel verbeter het.

Indië het hulle egter toe ook vir minder as 100 lopies op Eden Gardens uitgeknikker.

Kontrasterende vertonings is jou voorland as jy nog probeer om jou spesifieke benaderingstempel op ʼn wedstryd af te druk.

Volgens Duminy werk die Proteas hard om meer bestendige vertonings te lewer.

“Een van die maniere om meer bestendige spel op te dis is om die goeie en die slegte op die speelveld ter ervaar en dan te verstaan waarom dinge juis op daardie manier uitgedraai het. Wanneer die toestande saamspeel kan ons 400 lopies aanteken, maar ons soek nog na maniere om 280 lopies op ʼn moeilike baanblad te slaan.”

Die tweede eendagwedstryd van die reeks teen Indië word Dinsdag op St. Georgepark beslis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.