Conway, Phillips jag darem nog WB-glorie

Glenn Phillips in aksie vir Nieu-Seeland. Foto: Twitter.

Nieu-Seeland speel vandag in die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker teen Pakistan in Sydney. En in die afwesigheid van die Proteas – Nederland het hulle mos verneder, onthou – kan ʼn mens seker die vordering van ʼn paar Suid-Afrikaans gebore spelers in die Kiwi-groep volg.

Glenn Phillips het op vyfjarige ouderdom saam met sy ouers na Nieu-Seeland verhuis en hy het in 2017 sy internasionale buiging teen sy geboorteland gemaak.

Hy het reeds amok by die Wêreldbeker gemaak toe hy ʼn honderdtal (104 van 67 aflewerings) teen Sri Lanka op die einste Sydney Cricket Ground gemoker het.

Sy spogvertoning met die wilgerlat het vir hom die speler van die wedstryd-toekenning besorg en Kane Williamson was natuurlik in sy noppies met die 25-jarige kolwer se beurt.

“Enige T20-honderdtal is altyd ʼn wonderlike prestasie, maar Glenn moes nou hard werk – die baanblad was beslis nie die maklikste om op te kolf nie. Hy het doodeenvoudig ʼn briljante beurt gespeel,” het die Kiwi-kaptein gesê.

Oor Conway is daar reeds tot vervelens toe berig.

Devon Conway het nege grenshoue in sy onoorwonne beurt van 92 lopies geslaan. Foto: Twitter.

Die 31-jarige voormalige Johannesburger het destyds met sy bestendigheid vir die Lions in Suid-Afrika gesukkel, maar hy blom deesdae vir die Swartpette.

Hy het ook reeds sy stempel by die jongste Wêreldbeker-toernooi afgedruk toe hy die Aussies met sy onoorwonne beurt van 92 lopies in die twee spanne se openingswedstryd gesink het.

“Wanneer ek vir Devon Conway sien speel, sien ek vir Brian Lara. Ja, hy is dalk nie so flambojant soos die Wes-Indiese speler nie, maar daar is ongetwyfeld baie ooreenkomste. Hy is iemand wat mal daaroor is om lopies te slaan,” het Mark Richardson, kommentator en oudspeler, gesê.

Die wedstryd tussen Nieu-Seeland en Pakistan begin vandag om 10:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Die twee spelers se statistiek by die internasionale skouspel in Australië:

Glenn Phillips: 195 lopies teen ʼn gemiddeld van 48,75 en ʼn treftempo van 163,86

Devon Conway: 124 lopies teen ʼn gemiddeld van 41,33 en ʼn treftempo van 119,23.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Maar om fair te wees, meeste van hulle was nie great in SA nie

George ·

Hulle is Kiwis. Suid Afrika moet nie nou kom en probeer se ja dis Saffas nie. Hulle is Kiwis in hul reg.
Sterkte aan NZ, Pak, Eng en Indie. My voorspelling is NZ vs Ind, en IND vat hom.

piet ·

Groot pakslae vir NZ. Te veel Suid-Afrikaners in hul span gewees, toe choke hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.