Crawley jaag eerste bal van As-toets na grens

Zak Crawley het Pat Cummins se eerste aflewering na die grens gejaag. (Foto: Twitter)

Ben Stokes het in aanloop tot die Reeks om die As gesê dat Engeland nie sy voet van die versnelpedaal teen Australië sal haal nie.

Nou ja, Zak Crawley het sommer met die eerste aflwering van die eerste toets op Edgbaston daad by die woord gevoeg toe hy die bal op die voorvoet na die grens gejaag het.

Die openingskolwer het uiteindelik sewe grenshoue in sy beurt van 61 lopies gemoker en hy het saam met Joe Root (118*) en Jonny Bairstow (78) toegesien dat die tuisspan teen meer as vyf lopies per boulbeurt kolf.

Nathan Lyon het weliswaar vier paaltjies geneem, maar veral Root het sy boulwerk geniet en hy het gereeld die Aussie-draaier met sy mokerveeghoue onder druk geplaas.

Engeland het ná ʼn eerstebeurttelling van 400 laat spaander en Stokes het terstond die beurt op 393/8 ná net 78 boulbeurte verklaar. Hy het immers vantevore gesê dat hy veel eerder die span se no.1 1-kolwer, James Anderson, se boulvernuf as sy vaardighede met die wilgerlat wil sien.

Die Aussies het ongetwyfeld aan ʼn bietjie bomskok gely toe hulle van die veld stap, maar David Warner en Usman Khawaja kon darem staande bly teen Stuart Broad en Ollie Robinson.

Veral die 36-jarige Warner moet ʼn sug van verligting slaak – Broad is deesdae gereeld te goed vir hom.

Die besoekers staar egter steeds ʼn agtsterstand van 379 lopies in die gesig. En dit net ná die eerste dag se spel.

  • Opsomming van telkaart:

Engeland 393/8 verklaar in 78 boulbeurte: Joe Root 118*, Jonny Bairstow 78 en Nathan Lyon 4/149.

Australië 14/0 ná 4 boulbeurte: David Warner 8*.

  • Spanne:

Engeland: Zak Crawley, Ben Duckett, Ollie Pope, Joe Root, Harry Brook, Ben Stokes (kaptein), Jonny Bairstow, Moeen Ali, Stuart Broad, Ollie Robinson en James Anderson.

Australië: David Warner, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Steve Smith, Travis Head, Cameron Green, Alex Carey, Pat Cummins (kaptein), Nathan Lyon, Scott Boland en Josh Hazlewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.