Cummins op die voorvoet teen kritiek

Justin Langer en Pat Cummins vier ’n toetsoorwinning. Foto: Hamish Blair.

Australië se krieketkaptein Pat Cummins het sy kritici se monde met ’n striemende teenaanval van sy eie gesnoer.

Die snelbouler moes hewige kritiek oor sy hantering van die hele Justin Langer-sage verduur en veral Mitchell Johnson het nie van sy hart ’n moordkuil gemaak nie.

“Ja, Cummins het goed in die afgelope Reeks om die As geboul, maar hy het sy eerste toets as kaptein lelik gedop. Hy het baie geleenthede gehad om ’n verlenging van Langer se kontrak te onderskraag – dit was maar ’n lamsakkige vertoning deur die nasionale kaptein as jy my vra,” het Johnson gesê.

Cummins het egter met ’n opslagbal van sy eie vorendag gekom en hy het onder meer gesê dat die tyd ryp vir ’n afrigtersverandering was.

“Net soos al die oudspelers – wat nou só ’n bohaai opskop – dra ek ook die belange van my vriende op die hart. Dit is nodig om ’n ander afrigter aan die stuur van sake te kry,” het Cummins gesê.

Volgens die 28-jarige kaptein het hy nog nie weer met Johnson gepraat nie.

“Dit is erg as ’n mede-snelbouler ’n mens so aanval,” het Cummins geterg. “Hoewel ek hoegenaamd nie met hom saamstem nie, is hy geregtig op sy mening.”

Pat Cummins tydens die Derde Kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië (22 Maart 2018). Foto: Reuters/Mike Hutchings

Hy meen dat die huidige groep spelers by ’n meer “samewerkende spanomgewing” sal baat; dit het glo niks met Langer se streng afrigterstyl uit te waai nie.

“Justin het erken dat sy afrigterstyl op intensiteit geskoei was en hy het om verskoning gevra as dinge dalk te ernstig geraak het. Ek dink egter dat die verskoning onnodig was; die spelers was eintlik oukei met sy benadering.”

Hy het egter bygevoeg dat die spelers, afrigterspan en die nasionale krieketbeheerliggaam ’n meer kalmblyroete in die toekoms sal wil inslaan.

Intussen stem Nasser Hussain met Michael Vaughan saam dat Langer die perfekte oplossing vir Engeland se kriekettreurmare is.

“Hy het eerstens al teen Engeland gespeel en weet presies wat ons sterk en swak punte is. Dan het die spanlede iemand soos Langer nodig om hulle reg te ruk – hulle moet weer begin om wedstryde te wen,” het die voormalige kaptein gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

N ·

Hoe bevoorreg is die speler nie om sonder rasse en kwota inmenging te kan speel nie. Word bloot op meriete gekies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.