De Kock enigste SA’ner in ‘Span van die toernooi’ 

Quinton de Kock (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Quinton de Kock is die enigste Suid-Afrikaner om in die Internasionale Krieketraad (IKR) se Span van die toernooi ingesluit te word.

Volgens die keurpaneel wat bestaan uit Ian Bishop, Kass Naidoo, Shane Watson, Wasim Khan en Sunil Vaidya, het De Kock, wat nou uit eendagkrieket getree het, geskiedenis gemaak in sy laaste dae as ʼn eendagspeler.

“Die Suid-Afrikaner het die eerste paaltjiewagter in Wêreldbeker-geskiedenis geword om 500 lopies en 20 paaltjies in ʼn enkele toernooi te benut. Die paaltjies wat hy gevat het, is net een minder as Adam Gilchrist se rekord van 21 in die 2003-toernooi. De Kock eindig ook met net een minder honderdtal as Rohit Sharma se rekord vyf in ʼn enkele toernooi.”

Die IKR se Span van die toernooi (in kolfvolgorde) is:

  1. Quinton de Kock (Suid-Afrika) – 594 lopies teen 59.40
  2. Rohit Sharma (Indië) – 597 lopies teen 54.27
  3. Virat Kohli (Indië) – 765 lopies teen 95.62
  4. Daryl Mitchell (Nieu-Seeland) – 552 lopies teen 69
  5. KL Rahul (Indië) – 452 lopies teen 75.33
  6. Glenn Maxwell (Australië) – 400 lopies teen 66.66 en ses paaltjies teen 55
  7. Ravindra Jadeja (Indië) – 120 lopies teen 40 en 16 paaltjies teen 24.87
  8. Jasprit Bumrah (Indië) – 20 paaltjies teen 18.65
  9. Dilshan Madushanka (Sri Lanka) – 21 paaltjies teen 25
  10. Adam Zampa (Australië) – 23 paaltjies teen 22.39
  11. Mohammed Shami (Indië) – 24 paaltjies teen 10.70

Die 12de speler is Gerald Coetzee (Suid-Afrika) – 20 paaltjies teen 19.80

Volgens die keurpaneel het Coetzee as ʼn sleutelfiguur in die Proteas-span na vore getree ná Anrich Nortje en Sisanda Magala se beserings. Hy is nou Suid-Afrika se voorste paaltjievraat in ʼn enkele Wêreldbeker met sy 20 paaltjies in agt wedstryde.

Glenn Maxwell en Adam Zampa is ingesluit nadat hulle Australië gehelp het om die Wêreldbeker vir ʼn rekord sesde keer te wen. KL Rahul, Ravindra Jadeja en Jasprit Bumrah is onder die ses Indiese sterre wat saam met die voorste lopiemakers Virat Kohli en Sharma gekies is, sowel as die voorste paaltjievraat Mohammed Shami.

Kohli het ʼn verbysterende 765 lopies teen ʼn gemiddeld van 95.62 geslaan om die vorige rekord wat deur Sachin Tendulkar, 673 lopies tydens die 2003-toernooi, opgestel is te verpletter.

Kohli se beste vertoning was in die halfeindstryd teen Nieu-Seeland aangesien sy 117 lopies en derde toernooihonderdtal Indië na ʼn eerste eindstryd in 12 jaar gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.