Dinge gaan Brook-skeur in Canterbury

Duanne Olivier is Suid-Afrika se mees suksesvolle bouler. Foto: Twitter.

Engeland A kolf tans teen meer as vyf lopies per boulbeurt en hulle is binne trefafstand van die Proteas se eerstebeurttelling van 433 in Canterbury.

Die 23-jarige Harry Brook was die grootste doring in die Suid-Afrikaners se vlees. Hy het 22 grenshoue (waaronder ses sesse) in sy beurt van 140 lopies vanaf slegs 170 aflewerings gemoker voordat Aiden Markram hom vanaf sy eie boulwerk uitgevang het.

Dan Lawrence (97 lopies) en Ben Duckett (’n onoorwonne 91) het verder tot die Suid-Afrikaners se kopseer bygedra.

Ja, die Protea-boulaanval is weliswaar sonder Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi, maar iemand soos Keshav Maharaj staan tans meer as sewe lopies per boulbeurt af, terwyl Glenton Stuurman ook nie baie gevaarlik lyk nie.

Duanne Olivier (2/59) is Suid-Afrika se beste bouler.

Die eerste amptelike toets tussen Suid-Afrika en Engeland begin volgende Woensdag op Lord’s.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 433/10 in 124.3 boulbeurte: Khaya Zondo 86, Rassie van der Dussen 75, Kyle Verreynne 62, Marco Jansen 54 en Craig Overton 5/74.

Engeland A 419/4 in 81 boulbeurte: Harry Brook 140, Dan Lawrence 97, Ben Duckett 91* en Duanne Olivier 2/59.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.