Dubbele terugslag tref Proteas

Rassie van der Dussen het ná ’n goeie beurt sy paaltjie verloor. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Nadat Aiden Markram en Rassie van der Dussen gistermiddag goed gekolf het om die Proteas hoop te gee in hul ietwat utopiese droom om 370 vir ’n oorwinning teen Pakistan aan te teken, het Hasan Ali hulle hard terug na die aarde gebring.

Die snelbouler het in ’n japtrap van Van der Dussen (48) en Faf du Plessis (5) ontslae geraak en ’n telling van 127/1 het blitsig na 135/3 verander.

Maar Enoch Nkwe, die Proteas se hulpafrigter, het juis gister gesê dat die Suid-Afrikaners glo dat hulle hierdie toets kan wen.

“Ons moedig die kolwers aan om hulself te wees en net te kolf. Ons gaan nie net speel om te wag dat die uurglas leegloop nie. Ons wil kyk hoe ver ons Pakistan kan druk,” het Nkwe gesê.

Indien die Proteas die 370 lopies vir ’n oorwinning aanteken, sal dit die hoogste suksesvolle lopiejaagtog nóg in Pakistan wees.

En die man wat moontlik die wa deur die drif vir die Suid-Afrikaners kan trek is Aiden Markram.

Aiden Markram. Foto: Facebook.

Die openingskolwer van St Alban’s College in Pretoria het met hierdie toer skielik sy voete in Asië gevind. Hy het sy eerste vyftigtal in tien probeerslae geslaan en kolf met baie meer selfvertroue.

Markram is die voorste lopiemaker in die reeks. Sy 188 lopies is teen ’n gemiddeld van net meer as 60 geslaan en hy het reeds 13 grenshoue in sy beurt gemoker.

Voeg daarby George Linde se veggees – hy het 5/64 in Pakistan se tweede beurt geneem – en ’n droom kan ’n werklikheid word.

Maar 370 lopies is nog baie ver weg. Veral as jy die Proteas se brose middelorde in ag neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.