Eenmalige toets ontaard in riller vir SA’ners

Australië se Annabel Sutherland het 210 lopies teen die Proteas geslaan. (Foto: X/cricket.com.au)

Sjoe.

Om te sê dat Australië se vrouekrieketspan die septer swaai in die eenmalige toets teen die Proteas in Perth kan vir die onderbeklemtoning-toekenning van die jaar benoem word.

Dinge is besig om in ʼn riller vir die arme Suid-Afrikaners te ontaard.

Nadat die Proteas binne 32 boulbeurte vir slegs 76 lopies uitgehaal is, het die Aussies met ʼn reusagtige 576/9 lopies geantwoord.

Annabel Sutherland het 210 lopies geslaan, Alyssa Healy het 99 lopies aangeteken en die Suid-Afrikaanse boulers het meer as vier lopies per boulbeurt afgestaan.

ʼn Agterstand van presies 500 lopies het die span in die gesig gestaar.

Dinge het ook nie veel beter met kolf en beenskut gevaar nie.

Laura Wolvaardt, Anneke Bosch en Suné Luus het almal hul paaltjies verloor voordat jy “ploetervertoning” kon sê en ná agt boulbeurte het die Proteas met hul telling op 13/3 gewankel.

Tazmin Brits en Delmi Tucker kon darem ʼn paar kastaiings uit die vuur krap en teen uitskeityd het die besoekers 67/3 op die telbord gehad.

Nog 432 lopies weg van Australië se eerstebeurttelling.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 76/10 in 31,2 boulbeurte: Suné Luus 26, Darcie Brown 5/21 en Annabel Sutherland 3/19.

Australië 576/9 in 125,2 boulbeurte: Annabel Sutherland 210, Alyssa Healy 99 en Chloe Tryon 3/81.

Suid-Afrika 67/3 in 28 boulbeurte: Delmi Tucker 27* en Kim Garth 2/8.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.