Engelse toeskouers koggel Warner

David Warner op pad terug na die kleedkamer. (Foto: Ishara S. Kodikara/AFP)

David Warner is ongetwyfeld een van wêreldkrieket se grootste rakkers en die Engelse toeskouers het reeds in die eerste toets in die Reeks om die As sy ore laat tuit.

Die 36-jarige kolwer was in 2018 een van die hoofrolspelers in die skuurpapier-sage teen die Proteas op Nuweland.

Die Aussies het destyds probeer om omgekeerde swaai te bewerkstellig en hulle het met ʼn stukkie skuurpapier aan die bal gewerskaf. Flinke kamerawerk het hulle egter uitgevang en Warner is saam met Steve Smith en Cameron Bancroft geskors.

Daar skort egter niks met die bleekbeen-ondersteuners se geheues nie en hulle het met ʼn paar kwinkslae op Edgbaston vorendag gekom.

“Het jy jou skuurpapier onthou, Dave?” was een van hul gunsteling-sêgoed terwyl hy veldwerk gedoen het.

Later, toe ʼn veglustige Ben Stokes sommer ná 78 boulbeurte Engeland se beurt verklaar het, het hulle die Aussie ook nie uitgelos nie.

“Broady gaan jou uithaal!” het hulle so tussendeur die uitjouery gewaarsku.

Stuart Broad het Warner immers al 14 keer in aanloop tot die toets uitgehaal en die toeskouers het gehoop dat dié tikke geskiedenis homself weer sal herhaal.

Die waarskuwing/profesie het ʼn werklikheid in die 11de boulbeurt geword toe die openingskolwer ʼn wilde hou gespeel het – die bal het die binnerand van sy kolf getref en teen die paaltjies gespat.

Kyk, ʼn spul Engelsmanne het lanklaas so lekker feesgevier.

Broad het Marnus Labuschagne van die volgende aflewering vir ʼn nulletjie uitgehaal, maar Usman Khawaja, Travis Head en Alex Carey kon vir die besoekers die kastaiings uit die vuur krap.

Teen uitskeityd het die Aussies 311/5 op die telbord gehad met Khawaja (126 lopies) en Carey (52 lopies) voor die paaltjies.

  • Opsomming van telkaart:

Engeland 393/8 verklaar in 78 boulbeurte: Joe Root 118*, Jonny Bairstow 78 en Nathan Lyon 4/149.

Australië 311/5 ná 94 boulbeurte: Usman Khawaja 126*, Alex Carey 52* en Stuart Broad 2/49.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.